Saturday, July 25, 2015

Levitha.



24 Julie 2015. Vrydag.

Lakki tot Levitha

Vandag is die dag. Ons kruis, my kruis! Ons staan dou voordag op, eintlik 05:30, want ons wil 06:00 vertrek. Die anker word opgetrek en voordat die son agter die berg kan uitloer, val ons in die pad na Levitha, 37°00.157 N, 21°28.176 O, 24.3 myl.

Dis al wanneer ek die son sien opkom, dis nou as ons vroeg moet vertrek. Die lug verkleur en stadig maar seker verander dit van dof na dag. Ek kyk terug na die beskutte Lakki Baai wat in die gloed van die opkomende son warm en hartlik en so veilig lyk.

Son kom op


Die see het sy gewone deinings, maar Gus waai net liggies. Dis in hierdie seestraat wat die Meltemi gewoonlik genadeloos waai. Waar hy almal uit sy pad uitblaas. Vandag, volgens die voorspellings, behoort die eerste stuk see kalm te wees. En dit is toe ook net so.

Die groot Griekse kaartboek, dis nou die een wat ook plaaslike kennis insluit, het oos van Levitha Eiland sulke blou golwe op die kaart geteken. Dit beteken dat daar groot golwe kan wees as die Meltemi waai. Hulle kry die inligting by vissers en plaaslike inwoners. En ek moet sê, hulle is nie verkeerd nie. Stadig maar seker begin Gus sterker te waai en die deinings word al groter. So nou en dan sê ek net: ”Jò!”

Ou Maja vat die golwe een vir een aan en stadig maar seker baan ons ons weg. Mens voel so klein en nietig en kwesbaar in ’n klein seiljag op die diep blou see. Dit maak my nederig en bewus van genade. Waar is die dae wat ek nou dadelik aan die sing gegaan het. Al wat jy kan sien, is see. Ek kan nog nie eers vir Levitha in die dynserigheid raaksien nie.

Eindelose see


Ons is darem nie alleen op die water nie. Sarel Seemonster is ook hier. Hy word deur ’n sleepboot getrek en ek en Archie verkyk ons aan die groot ding. Archie sê dis ’n olie-tuig (oil rig). Dit trek my aandag van die groot see af en ek kyk en kyk.

Sleepboot en olie-tuig
Sarel Seemonster


Deur die newels kan ons Levitha sien. Later duideliker, maar verdomp of hy wil naderkom. Maar aanhouer wen en die einde is in sig. Ons vaar na die westelike baai waar ons verlede jaar saam met Gerrie en Ansu anker gegooi het en so gesukkel het dat die anker byt. Hoop dis hierdie keer makliker. Gus waai met rukke en stote. Daar is etlike kolletjies sand en die res is net seegras. Ons gooi weer en weer en weer, sonder sukses. Toe sê die kaptein die wonderlikste woorde: ”Ou vrou, kom ons gaan gryp ’n boei by die oostelike baai.” Hy het seker gesien ek is gatvol gesukkel.

Naby Levitha


En so maklik is dit, ek vat die helm oor en Archie gryp die swaar boei, maak vir Maja daaraan vas en ons is veilig. Geen bekommernis oor sterk winde wat nog tot middernag gaan waai nie. En dit kos net €7.

Levitha Baai


Saam met die aand kom die stilte en kalmte. Al die seiljagte draai effe om die boei in absolute harmonie. Maja sê: “Waar sy draai, sal ek draai.” Soos die Bybelse Naomi en Rut. Oorlaaide dinghies met donker figure gaan land toe om in die restaurant te gaan eet. Later kom hulle vrolik en versadig terug na hulle seehuise. Die Duitsers kom al singend terug en sing baie mooi Duitse volksliedjies aan boord.

Tevrede gaan slaap ons terwyl die Duitsers ons tot in droomland in serenade.