19 en 20 September 2017. Dinsdag en Woensdag.
Ons groet vir Ohrid en klim die bus na ons
volgende bestemming en dit is Bitola. Die dorp is bekend vir sy vriendelike
mense. En dit is inderdaad die waarheid. Anders as in Ohrid en Skopje, waar
hulle nou nie juis oorloop van vriendelikheid nie, is dit hier absoluut die
teenoorgestelde.
 |
Goldy Hostel - ons kamer is heelbo |
Hier is 18de en 19de eeuse kleurvolle Ottoman
geboue en moskees in die dorp. En dan is daar die Širok Sokak, wat “ Wye straat”
in Turks beteken. Dis waar alles gebeur. Hier kraai die voetgangers koning. Mense
kom en gaan.
 |
Širok Sokak |
 |
Širok Sokak |
 |
Man op 'n perd |
Die Kloktoring is die baken van Bitola. Die klok
is omtrent 32m hoog en daar is ongeveer 100 trappe na die top. Die klokkespel
klink soos musiek in jou ore en word oraloor gehoor. Die huidige kloktoring is
in 1830 gebou, dieselfde tyd as die ortodokse Kerk van Sveti Dimitrij, met sy
mooi muurskilderye.
 |
Die Kloktoring |
 |
Kerk van Sveti Dimitrij |
Drie 16de eeuse moskees pryk in Bitola as bewys
van die Ottoman periode, die Yeni, Isak en Yahdar-Kadi. Ek weet nie hoe in
gebruik die moskees is nie, want ek hoor nie Imam sing nie.
Iets wat ek en Archie nie kan weerstaan nie, is ’n
mark. Die ou basaar is so ’n plek. Vars groente en vrugte en eiers en heuning word
in oorvloed daar verkoop. Jy kan alles daar koop, skoene en klere en hardeware.
En ook tradisionele Macedoniese items (wat ek as geskenke vir my dogters koop).
 |
Eiers |
 |
Groente |
Ek wil een rooipeper hê vir slaai. Soek een
sorgvuldig uit en sit in ’n sakkie. Toe ons wil betaal, wil die man glad nie
geld daarvoor hê nie. Hy beduie dis net een peper, ek kan hom verniet kry. Die
omstanders geniet my verbasing terdeë. Hier in Macedonië koop mense nie net een
peper nie, hulle koop kilo’s op ’n slag, want hulle verwerk dit tot ajvar en
droog dit vir die winter.
 |
Vrygewig |
Een van Macedonië se beste argeologiese terreine
is die Heraclea Lyncestis, ongeveer 1km suid van Bitola. Dis gestig deur Filip
II van Macedon, die vader van Alexander die Grote, in die 4de eeu v.C. Dit was ’n
baie belangrike handelsentrum in daardie tyd voordat die Romeine dit in 168
v.c. verower het. Die Gote (Goths) en die Slaviers het dit ook op stadiums
verower.
Ons stap soontoe. Die Romeinse baddens is die
eerste wat ons besigtig. Ons kyk ook na die Basilikas en ou teater. Baie
besonders is die mosaïek wat te sien is. Duisende klein klippies word in perfekte
harmonie ingeweef om die stories van die Christendom te vertel. Dis baie spiritueel
en die onderwêreld, sowel as die hemelse gewaarwordings word uitgebeeld.
 |
Romeinse baddens |
 |
Hoofstraat met rioolsisteem in die middel |
 |
Groot Basilika |
 |
Mosaïek |
 |
Mosaïek |
 |
Mosaïek |
 |
Teater |
Die heilige waters van die fontein, kon nie die
brutaliteit van al die wrede veldslae en al die riviere van bloed wat gevloei
het, skoonwas nie. Voorwaar baie antieke geskiedenis wat hier afgespeel het.
 |
Fontein |
Hulle is besig om die mosaïek te restoureer en die
man sit op sy knieë en werk daaraan. So toegewyd soos ’n monnik! Toe is ons
klaar met die antieke en die verlede en al wat oorbly is om in die hede die
duwweltjies uit ons skoene te haal en die hasepad Bitola toe te kies.
 |
Restoureerder |
 |
Restoureerder |
 |
Die dorings is uit |
Ons drink koffie in een van die talle straatkafees
en kyk na die mense wat verbyloop. Terug by die hostel, sak die son stadig en
die skemer daal oor die dakke van ons bure, met die kerkklok van Sveti Dimitrij
getrou op sy pos.
 |
Dakke |
Môre, as dit nie reën nie (hulle voorspel reën), wil
ons die Pelister Natuurresevaat besoek.