31 Mei 2017. Woensdag.
![]() |
Datça tot Symi |
“What to do, where to go?” Dis die vraag wat nie
antwoorde het nie. Ons het ’n ekstra dag en weet nie waarheen om te gaan nie.
Toe besluit die kaptein om die stoute skoene aan te trek en ons gaan na Symi,
9.5 myl.
Ons vaar uit die körfezi en reguit na Symi, sonder
ompad of kortpad. Ons volg net soos wetsgehoorsame burgers die reguit pad.
Die beeldskone Symi se huisies word kleurvol-klein-knus
teen die koppie uitgepak, soos pophuisies. Die hawe is nog net soos besig soos
altyd met toerbote, maar daar is baie plek by die seiljaghawe en die haweman
wys vir ons ’n plek aan. Archie tru en ek gooi anker, die haweman vang die
agtertoue en vas is ons.
Hierdie Symi is bekend vir gekruisde ankers. En dis ook nie lank nie, of die aksie begin. Die gullet trek sy anker op en trek die buiurman s'n saam op. Hy pyl op ons ankers af en al die kapteins skree vir hom van hulle jagte af. Behoorlike chaos, almal is in rep en roer.
Gekruisde anker … |
… en die kapteins kyk bekommerd |
Hierdie keer is ons aan die anderkant vasgemeer, nie soos verlede jaar waar die raas-kafee ons die hele nag wakker gehou het nie. Ek en Archie geniet die plek se atmosfeer vreeslik baie en Chrismari geniet haar storieboek net so baie in die saloon. Daai vrou kan lees, hoor. Aldag en elke dag. Vir langbeen sit op die dek, is daar nie sprake nie. Sy is verdiep in die boek.
Ons gaan stap later in die dorpie rond. Ek is lus
om iets te koop, maar allemintig, maar die goed is duur. Ek is nie meer gewoond
aan Euro’s nie! Koop niks nie. Van oral is daar mooi uitsigte op die hawe en
huise. Ek kyk en kyk en kyk nog. Ek lief Symi.
Symi |
Symi |
Ons sit op Maja se dek en kyk hoe die lewe sy gang
gaan. Ons kyk na die straatlopers en hulle kyk na die bootmense. Ons wonder oor
hulle en hulle wonder oor ons.
Ons leef in ’n wonderlike wêreld.