Ons slaap rustig in die veiligheid van Maja en die Marina. Die wind het nie in die nag gekom nie. Of anders het ons dit nie gehoor nie. Wat onwaarskynlik is, want ek slaap in die nag met gespitste ore.
Ons slaap laat, want ons het nêrens om te gaan nie. Ons skuil mos, want ons seil nie. Hier by ons is dit rustig, die wind waai net liggies. Miskien lyk dit anders op die see.
Ons wonder of die hele wind-ding nie maar net 'n gerug is nie. Toe begin die wind waai. Die bote is soos sardiens ingeryg. Gister laatmiddag het al wat leef en veral beef kom skuiling soek by die Marina.
 |
Soos sardiens ingeryg |
Die wind loei en stoei. Die bote staan en skuur fender teen fender ('n fender is soos 'n baie groot en baie dik kondoom wat vol lug gepers word wat keer dat bote teen mekaar stamp en skuur).
 |
Fender teen fender - Maja en haar buurvrou |
Die toue wapper en klapper. Dit kreun en klap en kners, maar ons is veilig teen die wind. Dankie tog ons is nie nou op see nie.
Die kapteins koop die tyd uit. Hulle is so besig soos miere. Beplan nuwe roetes. Maak alles wat net waag om effens stukkend te lyk, daar en dan reg.
 |
Besig soos miere |
 |
Beplan nuwe roetes |
Archie sit af bootwinkel toe om twee fenders en 'n part te koop wat hy nodig het vir een of ander reparasie. Hy sê die bootwinkel wemel van mans wat parte koop. Dis silwer goedjies en toue en skakelaars en ander goed wat ek nie weet waarvoor jy dit gebruik nie. Archie repareer vir die vale. Waar hy al die stukkende goed uitkrap, weet ek nie. Maar hy geniet homself terdeë.
Ons eet vanaand aartappels en pangebraaide inkvis.
 |
Maja se klein kombuisie |
 |
Knoffel aartappels en pangebraaide inkvis |
Die wind kom en gaan. Dit waai met rukke en stote. Dis voorwaar nie 'n dag om te seil nie.
Die Sirocco is beslis nie maar net 'n gerug nie, dis 'n vreesaanjaende werklikheid.
***
Die wind het gaan lê...