19 Julie 2018. Donderdag.
10:00 begin die wedvaart. Dis 'n jaarlikse wedvaart wat by Kos begin, dan Kalymnos, Niseros, Symi en by Rhodos eindig. Dit word die Rhodos Cup 2018 genoem. Daar is behoorlik aktiwiteit op hierdie kaai. Almal maak gereed en spanfotos's word geneem. Daar is nogal baie Russe wat deelneem. Al 75 jagte moet losmaak en in die see gaan wag vir die horing om te blaas.
 |
Wag vir wedvaart |
 |
Spanfoto |
Hulle vaar een vir een uit die hawe, in sukke rye. Dan wag almal vir die aksie in die see voor die hawe. Verskillende kleure vlae word opgesteek. Elkeen beteken iets. Dan blaas daar 'n horing en die manne maak gereed. Op die volgende blaas begin die jagte wat in die spesifieke divisie deelneem, te seil. Hulle moet eers wind-op om 'n boei seil en dan vat hulle die langpad na Symi. Daar is vier verskillende divisies en hulle begin op verskillende tye te seil.
 |
Wag vir begin sein |
 |
"… and they're off!" |
 |
Weg is hulle |
Dis net jagte waar jy kyk. En dié manne ken van seil. Dit lê behoorlik skeef en die spoed! As hulle die pad wind-af vat, word die spinnakers en genakers gehys en dan bol daai kleurvolle seile in die wind. Die eerste klomp trek al doer in die verte toe die laaste klomp wegspring.
 |
Weg is hulle! |
Dit was omtrent 'n gesig om te sien. Ons kyk hoe verdwyn al die deelnemers in die verte en stap terug na Maja. Ons maak reg, want vandag gaan ons die bus klim na Mandraki, die ou hawe. Ons was al twee keer by die vulkaan, so vandag is dit nie op ons program nie.
 |
Verdwyn in die verte |
Mandraki is nog net so mooi soos altyd. Die see slaan die branders teen die rotse stukkend. Die dorpie staan amper in die water. Oral is daar restaurante en die seekatte word sommer op 'n draad gedroog. Die reuke en geure van heerlike kos hang in die lug en ons monde water behoorlik. Ek en Archie swig voor 'n heerlike gyro en die bier daarmee saam is yskoud.
 |
Klein Venesië |
 |
Mandraki |
 |
Restaurant langs die see |
 |
Seekatte op die draad |
 |
Gyro en bier |
Bo in die rots, is die klooster wit teen die swart lawa rotse. Ons stap op die mooi paadjie na die lawa strand waar die swart klippe oral te sien is. Archie was toe ook sommer die doepa wat wat winkelassistent op sy hand gesmeer het om dit sag en soepel te maak. En jou waarlik, daai hand voel sagter.
 |
Strandklippe |
 |
Paadjie langs die see |
Dis regtig 'n mooi dorp en ons dwaal sommer rond, eet roomys en kyk vlugbal op die strand. Toe is dit weer tyd om die 19:00 (die laaste) bus terug te klim na Paloi, waar die hawe is. Wat 'n lekker dag!
 |
Paloi kerk |
 |
Baie leë hawe |