16 en 17 September 2019. Maandag en Dinsdag.
Ons
klim die 8:15 bus na Gura Humorlui. Dis naby Suceava. Daar klim ons op die
volgende 11:00 bus na Sigethu Marmatiei, of Sighet, soos die dorpenaars hulself
noem. Ons ry deur pragtige berge met klein dorpies.
Ons
stop vir bene rek en middagete en 'n plaaslike inwoner gesels vreeslik
met my terwyl ons koffie drink. Ek verstaan geen woord nie, maar hy
praat land en sand. Toe ek moet loop, soen hy my hand en roep weer van
die balkon af en waai vreeslik.
Die vallei word verfraai met vreedsame huise en plase. Selfs die huise langs die hoofpad word pragtig versier. Dit lyk of die mense van Roemenië regtig trots op hul huise is. Selfs die meer eenvoudige huise, is trots en goed versorg.
 |
Landskap |
 |
Trotse huis |
Toe
ry ons verder en ek dink dat hierdie keer gaan ons by 'n baie mooi plek
bly. Die pad kronkel deur berge. Dis boom en bos en bergpas. Ons nader
Sighet en daar is darem nog berge. Ek is nog steeds vol hoop. Toe klim
ons by die busstop af en begin ons tasse na ons blyplek sleep.
Maar o weë! Hierdie hostel is nou behoorlik aan die gatkant van die dorp. Oor die treinspore, vêr van die sentrum. Ag nee!
Hier
is ook nie baie publieke vervoer nie. Busse na besienswaardighede is
maar min. Archie soek op die internet, vir ure. Ons wil met die
stoomtrein gaan ry.
Ons gaan toe maar dorp toe en verken die dorp lusteloos.
 |
Kerk |
 |
Cinema Mara |
 |
Op die hoek |
 |
Kerk |
Die Memorial Museum is nogal indrukwekkend. Dis 'n memorial vir die slagoffers van die Kommunisme en Weerstandsbewegings teen Kommunisme. Die kommunistiese regering het almal wat hulle teengegaan het, in opstand teen hulle gekom het en selfs net iets negatief oor kommunisme gesê het, vervolg. Self sonder enige bewys van 'n oortreding.
Die Memorial Museum het in 1994 tot stand gekom. Die Sighet tronk is gebruik vir die museum. Dit bestaan uit drie verdiepings en elke tronksel is nou 'n uitstalling. Op die mure is die
slagoffer se name geskryf. Oral is foto's van slagoffers. Verbode briewe wat in die tronk geskryf is en boeke word uitgestal. Ten minste 8 000 mense is in kampe, tronke en
in plekke waarheen hulle gedeporteer is, dood as gevolg van die kommunistiese regering se vervolging in Roemenië.
 |
Tronk |
 |
3 verdiepings selle |
 |
Foto's van slagoffers |
 |
Tipiese sel |
 |
Ou radio |
Daar was ook twee strafkamers in die
tronk. As ’n gevangene enige iets verkeerd doen of sê, word hy sonder klere na
die stikdonker strafkamer verplaas, sy kosrantsoen is gehalveer, soms gemartel
en dan aan die koue grond aan sy enkels vasgeboei, totdat hulle besluit het hy
is genoeg gestraf.
 |
Enkelboeie in die strafsel |
Dan
is daar ook die standbeelde van agtien menslike figure wat na 'n muur
toe loop. Dit stel die slagoffers, wat vervolg is deur die kommunistiese regering, voor wat gesterf het vir hulle idees. Dis 'n simbool van wat Kommunisme aan mense gedoen het, hulle propeer breinspoel om nie vir jouself te dink nie. Jou horison vernou. Die beeld met die afkop, wys die rigting aan. Nogal ironies dat só persoon die rigting aanwys! Die
kunstenaar was Aurel Vlad en hy het die standbeelde in hout gemaak en in 1997 het hulle die standbeelde
verbrons.
Dit begin saggies te reën. Lyk my die hemele treur en huil ook saam oor wat alles in die tronk en land afgespeel het.
 |
Hele groep |
 |
Magteloos |
 |
Van alle waardigheid gestroop |
Toe stap ons verder. Ons kom op die houtkerk af. In dié deel
van die wêreld het hulle houtkerke gebou. Oral langs die pad is hulle te
sien en Sighet spog ook met hul eie houtkerk. Alles is hout, die mure,
deur, dak en binnekant. Selfs die fresco's is op hout geskilder. Maramures, die streek se naam, is bekend vir hul
oorvloed hout.
 |
Bewolkte houtkerk |
 |
Fresco op hout |
Daar is nog 'n paar mooi ou geboue wat die plek bietjie opkikker. Die weer lyk dik en dit begin weer saggies te reën.