Tuesday, September 30, 2014

Turkye. Istanbul. Moskees.

30 September 2014. Dinsdag.

Wat 'n lang reis na Istanbul. Die wiele het 19:00 begin rol en ons het eers die volgende oggend 10:15 hier aangekom. Dit was eers 'n pendelbussie na die groot vervoersentrum in Nevşehir. Toe is dit groot bus en die lang rit tot by Istanbul se vervoersentrum. Laastens was dit weer 'n pendelbussie na Sultanahmet. Die laaste deel was die ergste, want dit het gelyk na 'n verkeersknoop op die snelweg tussen Johannesburg en Pretoria.
                   
***


Istanbul is bekend vir die Blou Moskee. Dis 'n mooi gebou wat 'n projek van Sultan Ahmet I was. Daar is 6 minarets (torings), 260 vensters en tien duisende Iznik teëls. Die moskee het sagte kurwes, baie koepels en 'n groot binnehof. Die argitek was Sedefhar Mehmet Ağa.

Blou Moskee
Binnekant
Hoofkoepel
Een van die vier reuse steunpilare

 Die volgende moskee waarheen ons gaan is die Aya Sofya, 'n reuse moskee. Dit was aanvanklik 'n Christenkerk wat deur die Bizantynse keiser, Justinian, in die 6 de eeu gebou is. In 1453 is dit deur Mehmet die Oorwinnaar, in 'n moskee verander en in 1935 het Atatürk dit as museum verklaar.

Dit bestaan uit 'n grondvloer en gallerye. Daar is nog baie indrukwekkende mosaïeke uit die Christendom in die moskee.

Mosaïek van Jesus Christus
Keiser John II Komnenos, Maagd Maria en Keiserin Eirene
Kolomme en boë

Daar is ook graftombes buite die Aya Sofya vir al die vername sultans van die Ottoman Keiserdom. So mooi soos die Blou Moskee van buite is, is die Aya Sofya van binne.

Graftombe van Selim II

Op die Sultanahmet Plein is daar nog allerhande ander besienswaardighede. Daar is die Obilisk van Theodosius, die rowwe obilisk, die spiraal kolom en die Duitse Fontein.

Almal probeer matte en goed aan ons afsmeer, toe gaan stap ons maar in Gülhane Park.

Ontsnap

Turkye. Cappadocia. Verlore liefde.

28 September 2014.  Sondag.

Vanaand klim ons 19:00 die nagbus na Istanbul. Ons moet 10:30 uit die kamer wees, so ons het baie tyd om te verwyl. Die weer lyk dik en die kans vir reën is goed.

Ons pak en los die bagasie in die hotel se stoorkamer. Ons besluit om die Pigeon Valley, 'n kort roete, te gaan stap en hoop die reën vang ons nie.  
Ons kry die roete maklik en begin te stap. Die roete is bekend vir sy duifhuise wat in die rotse uitgegrawe is. Die mense van vergange se dae het die duiwe se mis as bemesting gebruik.

Duifhuise

Dis 'n heerlike stap in die vallei. Dit lyk anders as die Rooi en Roos met hul rotsformasies. Dié  berge is nog heel en is groot. Baie mense stap hier, al dreig die wolke om ons nat te spat.

Arch waardeer die uitsig
Pigeon Valley
Soldate
Paddastoeldakkies

Ons kom  bo by Uçhisar, die eindpunt van die vallei uit en besluit om met die Love Valley terug te stap.  Dit reën so nou en dan liggies.

Ons sien die roetebordjie wat na dié vallei wys en begin te stap.  Ons kry ook weer die Deense groep wat ons op die Roos Vallei ontmoet het. Hulle gaan ook die roete doen. Die paadjie is klein met min voetspore. Archie sê hy wonder oor die pad, maar ons stap maar aan. Ek sê later vir Archie dat ek nie roete aanbeveel nie, want dis nie eintlik mooi nie. Hy stem saam en ons stap aan. Dan trek ons reënbaadjies aan vir die ligte reën wat plek-plek uitsak, dan hou die reën op en ons trek weer uit.

Ons kom by 'n groterige grondpad uit en Archie ruk die selfoon uit om  te sien waar ons op die aarde is. Die blou kol wys dat ons glad nie naby die Love Valley is nie en ook nie naby Göremi, waar Gûven Cave Hotel is nie. Ons is verlore in die liefde. In ons moer in verdwaal.

Ons stap maar aan, wat sal ons maak. Ons moet êrens uitkom. Hier is baie druiweplase en die mense pluk druiwe. Ons groet hulle en hulle wink en roep ons nader. Die gawe mense gee vir ons elkeen 'n tros druiwe met 'n breë glimlag op die gesig. Hierdie Turke darem. Hulle is juwele! Eva gee haar tros vir Adam.

Turkse juwele

Ons stap maar aan en kom nader aan die teerpad. Die reën kom! Daar is klomp toeriste en ons dien dis die Göremi Panorama. Toe begin die reën uitsak.  Archie gaan vind uit van 'n dolmus en hulle sê die busstop is 500 m verder en elke 15 minute is daar 'n bus. Ons soek nou nog na daai busstop.

"Suffer" is ons voorland en ons stap toe maar in die reën terug hotel toe, al langs die teerpad. Geen Love Valley vir ons vandag nie. Verlore liefde.

"Suffer suster"
Göremi in die motreën

Dis hartseer om Göremi te groet. Mustafa, bestuurder van ons hotel, was so behulpsaam en vriendelik. Göremi sal ons miskien eendag weer sien.