4 Mei 2017. Donderdag.
![]() |
Gökkaya tot Karaloz |
Ons het vandag weer nie vêr om te gaan nie, want ons gaan na Karaloz, net 4.1 myl. Maja lê in ’n bad water, so stil is die baai. Ons vertrek 9:00 en vaar al die pad. Die grot lê blou uitgegrawe in die rotswand. ’n Paar toeriste op ’n klein bootjie doen ondersoek en bekyk die grot.
Blou Grot |
Toe is dit om die hoek na Karaloz, wat
sy eie grotterigheid het. Dis ’n mengsel tussen grot en uitgrawing. Ons vaar
die baai binne en Archie kry al die toue reg vir die lang tou na die land tipe
anker. Ek hou mos glad nie daarvan om so vas te maak nie.
Grot by Karaloz se ingang |
Archie tru, ek gooi anker, Archie duik
met sy tradisionele sierlike boog in die water en ek vat die helm oor. Till en
Andree help met die toue. En na ’n bietjie onderhandelings is ons vas aan die
land. Dis ’n pragtige baai.
Archie en sy landlyn |
Till trek tou |
Gus waai en ek en Andree is nie lus vir swem nie. Till is egter dapper genoeg om die water aan te durf. Hy het ’n ingeboude termometer en verklaar die water tussen 17° C en 18° C. Archie het ook geswem, net omdat daar ’n doel daarvoor was – hy moes met die tou land toe neem.
Twee van die bemanning gaan lê skuins,
baie skuins, want eers baie later kom hulle weer regop. (En dis nie ek of
Archie nie) Die kaptein verlaat die skip en gaan verken die land. Klim die kop
soos een van die boerbokke uit, al is hy eintlik ’n Engelsman. Ek wuif vir hom
vanaf Maja se snoet. Ek gaan nie saam nie, want ek laat my knieë vandag rus.
Karaloz Baai |
Ek bly agter en waai |
Besoeker by |
Die res van die dag gaan rustig verby.
Die mans lees, Andree is soos ’n tiener op die selfoon en ek luister musiek op
die dek. Dis koud, want die wind waai wild en wakker.
Die hoendersop word verhit en vars sop noedels
word gekook en weereens smul ons heerlik aan die geurige sop. Dankie, julle. Dit
is die regte medisyne vir so ’n winderige aand.
Bo-baas hoendersop |
Die maan hang aan die hemelruim en begin
groei. Dit laat my dink aan ’n ou liedjie wat ek as kind gehoor het, “liewe
maan jy seil so langsaam”. (Die res het ek vergeet) Die donker aande word saggies
deur halwemaan verlig. Ek wonder waar is die ander helfte van die maan …