Friday, July 13, 2018

Skala. Astipalaia.

11 Julie 2018. Woensdag.

Panormos Baai tot Skala Astipalaia

Ons altwee word angstig wakker. Vandag is die toets of die Pratley gom gaan hou. Archie doen die laaste verstellings aan die kabel dat die vorentoe rat nie so styf moet wees nie. Hy sit agter die helm en ek trek die anker op. Toe is dit die groot oomblik. Gaan Maja vorentoe kan ry. Ek sterf tien dode (jammer ma) en Archie sit haar baie versigtig in vorentoe en daar gaan sy. Vorentoe, (nie) altyd vorentoe! Ons slaak 'n sug van verligting en vaar na Skala, 14.8 myl.

Berge

As sy eers vorentoe vaar, sal sy aanhou vorentoe vaar. Ons hou maar dieselfde spoed. Wil glad nie aan die versneller peuter nie. Ons probleem kom as ons moet vasmeer. Ons kan nie sommer net vorentoe en agtertoe ry nie. Daai kabel kan enige tyd weer breek. Ons het in die boek gelees daar is veerbote van Skala af na Athene. Archie sal maar moet soontoe om 'n nuwe kabel te koop. Én ons rekenaar is ook skielik stukkend. Ons het een dringend nodig!

Die kranse en berge is regtig mooi (besef ek eers later). Ruwe landskap met höe berge met hulle voete in die see. Die optimisiese kaptein sien die mooi raak en ek kyk net nikssiende na die mooi.

Astipalaia
Kasteel met sy twee kerke

Ons nader die hawe en ek is naar van benoudheid. Gus waai en Archie kry posisie ek gooi anker en Gus waai ons skeef. Archie ry weer baie versigtig vorentoe, kry posisie en tru weer. 'n Man staan op die kaai en wag vir die agtertoue, maak vas en hier is ons. Veilig en vas.

Die kaptein gaan vind dadelik uit oor die veerboot, maar hy kom terleurgesteld terug. Veerboot vertrek 18:00 en kom in die nag daar aan en kom eers twee dae later terug.  Archie kyk weereens na sy reparasie en besluit die kabel sal hou tot ons 'n nuwe een iewers direk kan koop. Hy het ook 'n Plan B as dit weer breek.

'n Koerier gaan vir hom 'n rekenaar laat kom. Hy sal môre hoor wanneer dit hier gaan wees. Ons moet in elk geval tot omtrent Dinsdag hier skuil want Gus ruk totaal hand-uit. Daar kom erge winde met groot see tussen Astipalaia en Nisiros (ons volgende eiland). Ek is nou regtig moeg vir opwinding en wil net bietjie rus vir my siel hê. Wat ek ook nie in dié hawe gaan kry nie, want as die Meltemi waai, is hier sterk windvlae in die baai (sug).

Wel, kom ons sien wat gebeur …

Panormos. Astipalaia Eiland.

10 Julie 2018. Dinsdag.

Katapola tot Panormos Baai

Ons is vroeg uit die vêre. Kry vir Maja reg en begin om die anker op te trek. Die veerboot kom mos elke aand hier slaap en gooi dan sy anker so skuins oor die baai. Ons hoop maar dis nie oor ons s'n nie.  Ek vaar uit en Archie trek die anker op, net vir ingeval. Hy trek op en die volgende oomblik sê daai ankermotor, wrrrrm. Ons sit vas. Archie bekyk die saak in die half donker. Hy sien dis nie die veerboot s'n. Dis 'n ander anker. Toe begin die palava. Ek is agter die helm en voer die kaptein se bevele van "vorentoe, agtertoe" uit. Hy doen sy tou-ding en genadiglik kom ons los. Bravo kaptein!

Ons begin ons vaart na Panormos, 37.1 myl. Die genoa word sommer dadelik gespan. Gumnuts wil ook vroeg vaar en n die vêrte sien ons hulle ook uit die baai seil. Hulle haal ons in en ons kan weer groet. En ons paaie skei. Al weer koebaai!

Sonsopkoms
Gumnuts
Tot siens

Ons sien hulle genoa wapper en hulle staan stil. Later sou ons per epos hoor dat toe hulle die genoa ingetrek het, het die spinaker se tou  daar ingekom en hy kon dit nie intrek. Ai, altyd opwinding.

Die see is baie platter en ons seil vir 1h20 min en motorseil en vaar die res van die tyd. Ons kom by Panormos op Astipalaia Eiland en dit laat my dink aan die Moordenaarskaroo. Bar en dor en ongenaakbaar.

Ons vaar die baai binne. Daar is g'n niemand nie. Weemoedige eensaamheid tref my in my siel. Wel, ons maak toe reg vir ankergooi in die klein baai. Toe Archie vir Maja in vorentoe rat sit, ry sy agteruit! Hy sit haar in tru rat en sy ry agteruit. Probeer weer vorentoe, maar sy ry net agteruit! My hart gaan staan amper! Die kaptein se oë is groot. Ons doen toe maar alles so agteruit. Die anker byt en ons is vas.

Panormos Baai

Toe begin daai kaptein om die fout te soek. Ek is behoorlik naar van spanning. Hier is ons op die Godsverlate anker op 'n plek wat soos die Moordenaarskaroo lyk en ons kan net agtertoe ry. En ons moet gaan skuilplek kry vir Gus wat Donderdag kom. Ek wil my ma hê!.

Archie kry toe die fout. Dis die kabel. Hy sê hy weet nie of hy dit kan regmaak nie. Ek is op die rand van trane. My bene voel lam, soos jellie. En ek moet gaan lê. Maar die kaptein begin om 'n plan te maak. Wat hy eintlik gedoen het, weet ek nie, maar hy maak Pratley gom aan en tik, en, en, en. Dan moet ek die throttle in tru en neutraal en vorentoe sit. Hy werk en werk. Hy sê hy hoop dis reg. Ons sal môre sien. Tru rat is reg, maar die vorentoe voel nog 'n bietjies te styf na sy smaak.

Werk aan ratkas kabel


O Vader van genade, help ons asseblief!





Katapola. Amorgos Eiland.

9 Julie 2018. Maandag.


Roete tot op datum

Kalotaritissa Baai tot Katapola

Vandag is dit gelukkig nie vêr na Katapola, 6.7 myl, nie. Gerrie en Ansu was in 2014 saam met ons hier. Dit is 'n oulike ou dorpie. Anker op en weg is ons.

Die see is nog groot van die sterk winde en ons rol die kant toe en daai kant toe. Die 6.7 myl voel baie langer as wat dit is. En ons het die vooruitsig om Martin en Shiree van Gumnuts hier te sien. Ons vaar die baai in en ek rek behoorlik my öe om vir Gumnuts te sien. En jou wrintie, daar is hulle! Op anker.

Ons wuif soos windmeulens. Dis heerlik om hulle weer te sien! Shiree se wasgoed wapper in die wind. Ons groet en maak afspraak vir 'n vinnige middagkuier voor ons die aand gaan uiteet. Martin klim in sy dinghie en jaag kaai toe om ons toue te vang. Vreeslik gaaf. En vas is ons. Toe groet ek vir Martin behoorlik! Hy kom aan boord en kuier so bietjie en sê Shriree moet port polisie toe gaan dan sal sy ons sommer oplaai vir 'n vinnige kuier op Gumnuts.

Martin en Archie
Ek en Shiree

Ons is net so bly om vir Shiree ook te sien. Ons vaar saam met haar na Gumnuts. Toe gesels ons behoorlik. Ons sien hulle een keer per jaar. Hulle het Shiree se susterkind en haar kêrel aan boord, maar hulle is uit vir die dag.

Ons het vir 'n ruk nie internet gehad nie, so ons weet nie wat Gus se planne is nie. Wel, ons hoor toe die swerkater is op pad. Ons wou twee dae by Katapola bly en weer na die klooster gaan, maar ons sal die planne moet verander en môre weer in die pad moet val. Anders gaan ons weer op so groot see moet vaar en daarvoor sien ek nie kans nie.

Die enigste ligpunt is dat ons die dag saam met Martin en Shiree kan deurbring. Ons het 'n ete-afspraak vir 19:30. Hulle vier kom in die dinghie aangery en ons ontmoet vir Matt en Amber. Twee oulike jong mense.

Daar kom hulle
Archie, Matt, Amber, Shiree, ek en Martin

Ons vier oues van dae eet geroosterde lam met suurlemoen deurdrenkte aartappels. Heerlik! Matt is 'n vegan en hy eet pepers wat met rys gevul is en Amber kies spagetti en garnale. Dit was 'n heerlike ete met goeie geselskap, geurige kos en yskoue wyn.  'n Aand om te onthou.

Môre wil ons 5:30 vertrek vir ons 37 myl dag.

Kalotaritissa Baai

8 Julie 2018. Sondag.

Tris Klises Baai tot Kalotaritissa Baai

Vandag is die dag. Ons het hierdie kruising na Amorgos saam met Gerrie en Ansu in 2014 gedoen en dit was rof. Vandag gaan ons na 'n ander baai, Kalotaritissa, 20 myl. Ons hoop op die beste.

Sommer gou span ons die genoa. Die wind kom van die kant, en ons seil. Die see is groot, met deinings wat ons behoorlik rondskommel. Dis lewensbaadjie dag en ons sit so ewe in helder oranje getooi op Maja.

Ek moet sê, hoe later hoe kwater. Gus waai later al meer van voor en met 'n klein genoa durf die kaptein die deinings aan. Vorentoe, altyd vorentoe. Ek gaan toe maar aan die sing en die kalmte daal oor my neer. Dis nog steeds nie lekker nie, maar ons seil vir twee ure en die ander tyd motorseil ons.

Die see is baie groot en verlaag ons spoed. Gaan hierdie Amorgos dan nooit naderkom nie? Maar ons seil en deining vir deining vorder ons. So paar keer het 'n hele stroom water my van kop tot tone natgespat. Dan waai Gus my maar weer droog. 

Uiteindelik kom ons by die kanaal en met genade kom ons deur al die vlak plekke en om die hoek lê ons baai. Die water is kalm en ons gooi anker. Dit gaan nie noodwendig 'n heerlike kalm tyd hier op anker wees nie. Maar is ten minste baie rustiger en veilig. En ons is baie dankbaar.
 
Kalotaritissa Baai
Visssersbote
Archie besig met ankerlig beheersisteem

Sullivan se slaaibak
 
En ek verjaar vandag. Nie presies die tipe dag wat ek ingedagte gehad het nie, maar nou ja. 

Sonsondergang