Friday, June 14, 2013

Luka Polace na Uvala Zaklopatica, Eiland Lastovo. Dag 47 en 48


Polace tot Zaklopatica


Polace is so 'n pragtige en gewilde baai. Ons besluit om nog 'n dag te bly. Ons gaan vandag die bosse invaar en na die soutmere toe stap. Dis 'n heerlike koel paadjie deur die bosse. Ons stap soos Livingstone, die ontdekkingsreisiger van ouds, deur die bosse.

Blaarvlinder op distel


Ons stap eers na Pomena. Dit is 'n vakansierige dorp langs die see. Daar heers 'n lekker ligte vakansie atmosfeer in die plekkie.

Pomena hawe


Die honger bekruip ons en ons eet ons heerlike toebroodjies wat Fanie gemaak het. Ons sit sommer langs die straat onder 'n boom en eet asof dit 'n gourmet ete is.

Smul aan Fanie se toebroodjies


Die roete langs die soutmere waarlangs ons stap, is pragtig en menige mense kan die versoeking van die koel blou waters van die mere nie weerstaan nie en orals word daar geswem. Ons wens natuurlik ons kan deel word van die menigtes, maar helaas, ons swemklere is veilig in ons kaste in Maja.

Ons pak die terugtog op 'n ander roete aan en verdwaal so effens. Na 'n stuk terugstap op ons ou spore is ons weer op koers na ons baai. Ons kom moeg en warm by ons baai aan en ons klim oorvol in Dinkie en ry terug na Maja.

As jy warm is, moet jy afkoel en ons maak toe ook so. Ons baai ons moeë en warm lywe in die koele lafenis van die blou water. Na 'n lekker lang swem en 'n baie kort buite-stort-afspoel, kan ons weer die lewe vierkantig in die oë kyk.

Ons slaap vroeg, want daar is geen belangstelling  vir my voorstel dat dit sang-aand is nie.

Die volgende dag staan ons vroeg op (05:00), want ons moet vroeg wikkel. Die pad na die eiland  Lastovo is ver en lank. Ons kry ons kapteins-koffie in die bed, maar my oë wil nog steeds nie oop nie. Ons vertrek voor hanekraai (06:00). Die water is glad en blink soos 'n spieël.

Vroegoggend in Polacebaai


Die manne span seile en ons seil vir 'n lang ruk, totdat die wind nie meer wil saamspeel nie en ons motor die pad verder. Dit is 25 myl tot daar. Ons sien die eiland in die verte en hoop dit kom gou nader, maar dit sukkel. Dit voel of die plek op dieselfde plek bly, inteendeel, dit voel of dit verder raak.

Na, wat soos 'n ewigheid voel, (sewe ure) nader ons die nou ingang tot die baai.  Jy moet in die middel van die ingang vaar, anders is dit te vlak. Archie hou presies koers. Ons kry 'n ankerplek in die baai van Zaklopatica (42° 46.376 N, 16° 52.534 O) en die anker raas af bodem toe, trek stokstyf  en ons is stewig vas.

Maja op anker in Zaklopatica Baai
Zaklopatica hawe


Ons maak klaar om dorp toe te gaan. (Ons gaan mos altyd dorp toe). Weereens in Dinkie, oorvol en ons sit haar so plat, dat ons broeke nat word. Dit word gelukkig gou droog in ons lang staptog padlangs na die dorp van Lastovo.

Lastovo 


Die dorpie is in terasse gebou en lyk prentjie mooi van bo af. Dis warm (was ons broeke nat?) en ons voel effe uitgeput. Ons bekyk die dorp, koop goedjies in die klein supermark en stap toe boslangs terug na ons ankerplek Zaklopatica.

Die paadjie deur die bos is heerlik koel en ek geniet die aarde se reuk, se klank, se voel. Ek geniet die droë grond onder my voete na die lang dag op die water.

Ons eet gebraaide hoender en aartappels vir aandete.

Maja se bemanning