Sunday, September 6, 2015

Ag. Ioannou.



5 September 2015. Saterdag.

Daskalio tot Ag. Ioannou via Alyki

Twee salige dae by Daskalio. Dit was heerlik. (Ons het later by Nick verneem dat die eiland bekend is vir aardbewings!)

Toe is dit weer anker op en ons gaan eers na Alyki om voorrade te koop. Soos ek gister vir Chris gesê het, ons staar skeurbuik in die gesig. Ons sal vars produkte moet koop. Ons eindbestemming vir die dag is Ag. Ioannou, 38°12.858 N, 22°57.648 O, 11.6 myl. 

Alyki


Ons is sommer gou by Alyki en soek ankerplek om tydelik te stop. Die dorpie is nie eintlik geskik vir oornagverblyf vir seiljagte nie. Ons gooi anker en maak vir Maja aan ’n boei vas dat sy nie rondswaai nie en klim in Dinkie. Gus lê, so dit is baie stil. Ons roei kant toe en sien ’n man kom na ons toe aangeswem. Ek en Archie het dieselfde gedagte – hy gaan sê ons mag nie die boei gebruik nie. Sy eerste woorde aan ons is: “Are you from South Africa?”

Dis toe Nick, ’n Suid- Afrikaanse Griek wat ’n vakansiehuis in Alyki het. Hy nooi ons toe vir koffie onder die strandsambreel en sy vriend, Nick, kuier saam. Laasgenoende kan glad nie Engels praat nie. Nick laai ons in sy kar en daar trek ons na sy huis, waar hy vir ons Coke en vrugte voorsit. Ons kuier so ’n ruk en toe neem hy ons terug na Dinkie. Hy nooi ons vir ’n Sondagbraai by sy huis. Nick en sy vriend, Nick, sal ons môre, 15:00 by ons ankerplek kom oplaai. So, ons sal sien of dit regtig gaan gebeur.

Nick (die Suid-Afrikaner), Archie en Nick (die Griek)


Ons gaan terug na Maja en vaar vêrder na Ag. Ioannou. Dis ’n klein gehuggie (hamlet). Daar is ’n klein hawe met lokale bote en permanente boeie vir die plaaslike bevolking. Geen plek vir ons nie. Hierdie is een van daai ankers met ’n lang landlyn. Die baai is diep en ons moet in 22 m anker. Ek gooi en Archie tru. Die anker sleep en ons trek op. Ons gooi by ’n ander inham en dieselfde gebeur. Daai anker wil nie byt nie. Die derde keer sleep hy weer en in die sleep byt hy. Ons is te na aan die land en ek sukkel om die anker op te kry. Ek roep vir Archie, want hier is ’n slang in die gras. Archie sukkel. Die anker het iets beet. Die anker wil nie op nie, ons is vas. Maja gaan agtertoe en weer vorentoe. En skielik is ons los. Archie vermoet ons was aan ’n rots vas. Genadiglik is ons los. 

Ag. Ioannou hawe


Archie sê ons moet weer gooi en ek is moerig. Ons gooi en die *@#$% anker wil nie byt nie en ek trek weer op. Toe skree ’n man van die land af: ”Take the yellow bouy!” En ek skree: ”Thank you!” en haal dadelik die boothaak uit. Archie dink nog aan nog ’n probeerslag ankergooi, maar ek is klaar agter die stuur, gee die boothaak vir hom, want hy is die sterk een wat die boei moet gryp en ek begin na die boei toe vaar. Archie gryp toe maar die boei en vas is ons!

Ons gaan land toe om te hoor vir wie of wat ons moet betaal vir die boei. Die taverna man is die eienaar van die boei, maar hy verstaan nie wat ons sê nie en hy roep iemand in wat Engels kan praat. Die boei is gratis en ons hoef nie by die taverna te eet nie. Maar hy sê toe ook ons moet liewers die wit boei gryp, want die gele is nie so sterk nie. Ek wonder toe hoekom het hy dan gesê ons moet die geel boei gryp. Ons drink iets by sy taverna en gaan terug na Maja en kry die wit boei. Toe ontspan ons heerlik.

Maja aan die boei


Ons sal sien of Nick ons môre hier kom oplaai.