Wednesday, June 22, 2022

Kuşadasi

18 tot 22 Junie 2022. Saterdag tot Woensdag.

Kuşadasi groei op mens. Dit raak nou ons dorp. Ons gaan omtrent twee weke hier bly. Vandag is my kroning. Die geleentheid word gevier met Gus wat sterk waai en met sy geloei voer hy die seiljagorkes aan. Toue tril, maste maak moles, seiljagte wieg en die hele marina raas. Die see is vol berede perdjies. Ek en Archie stap na die tandarts.

Marina

Die kroning verloop seepglad. Kap en skaaf en pas en oop-en toemaak en toe is sy tevrede met die kroon. Dit word seremonieel vasgeplak en ek is gekroon in Turkye.  Toe ek uitstap, is dit doodstil. Gus het gaan lê.

Kuşadasi se dorp is altyd vol toeriste, want hier is omtrent elke dag twee passasierskepe. Toeriste gaan na Efese. Ons stap heerlik in die dorp rond. Ek ken die dorp al goed, want ons het baie beddegoed vir Marchie's Place hier gekoop. Handdoeke, lakens en beddegoed.  Ons moet juis tot volgende Dinsdag wag vir nog bedlinne wat Yataş Bedding vir ons bestel het.

Boks vol beddegoed

Kervansaray

Kervansaray

Afrikaanse winkel

Seefront

"Ladies beach"

Selonsroos

Ons besoek die kasteel. Dit was eers op 'n eiland, maar hulle het 'n looppad soontoe gebou wat dit met hoofland verbind. Dis heerlik vreedsaam in die kasteel. 'n Seilboot aan 'n boei verfraai die baai aan die ander kant van looppad. 

Kasteel op Duifeiland

Kasteel ingang

Kasteel

Uitsig van kasteel



Şerince

Soms is ons wel egte toeriste. Soos vandag. Ons gaan na Şerince.

Drie dolmusritte en ons is daar. Şerince was oorspronklik 'n Griekse dorpie. Met die uitruiling van die Turke en Grieke, was die Griekse inwoners van Şerince verplig om terug te gaan na Griekeland. Hulle is gedeporteer na Griekeland. Hulle moes hul vrugbare plasies en vrugteboorde verlaat en 'n ander heenkome in Griekeland vind. 

Tot vandag is Şerince bekend vir sy oorvloed vrugte. Kersies, moerbeie, perskes, appelkose, bessies. Om net 'n paar te noem. En dan maak hulle vrugtewyn daarvan. Elke tweede winkeltjie verkoop wyn.

Wynwinkel

Ons besluit om wyn te koop. Hulle laat ons proe. Soos engelpiepie op die tong. Heerlik. Ons koop toe twee bottels - moerbei en appelkoos - en loop toe die res van die dag met 'n drankasem rond. Een winkeleienaar, waar ons my dogter Michelle se geskenk koop, vra of ons wyn geproe het. Hy lag en beduie dat ons asems na wyn ruik.

Dis 'n heerlike dag in Şerince. Die huise hang teen die berghang. Die son skyn loomwarm. Ons eet middagete by 'n restaurant wat oor die dorpie uitkyk.

Ons bekyk die twee kerke in die dorp en koop kersies wat uit die vrou se tuin kom. Heerlik.

Şerince

Tradisionele huis

In die strate

Restaurant

Bees- en sampioenbredie

Ou Griekse kerk (nou 'n kunsgallery)

Muurskildery

Die dorpie wemel van toeriste. Dis veral gewild onder die Turkse toeriste. En dit is duidelik waarom hulle so van die plek hou. Baie handgemaakte produkte word hier verkoop. Van poppe, breekgoed, konfyt, speelgoed tot die mooiste leerprodukte. Pierre en Annatjie sal sommer baie van al die leerprodukte hou. Die restaurante en strate word kleurvol versier. Die plek het nou behoorlik atmosfeer.

Kleurvolle dennebolle

Gesig van leer gemaak

Nog'n leer gesig

Restaurant

Winkel

Winkelstraat

Toe is ons klaar getoeristeer en klim die dolmus na Selçuk. Hier is die wonderlikste varsprodukte mark. .Die tamaties roep ons naam. Dit lyk vir my of die groente en vrugte hier meer kleur het as op ander plekke. Baie van die goed kom uit die mense se tuine en van hul plasies af. Ai, wat 'n lus vit die oog. 

Ons klim weer die dolmus en ry terug na Kusadasi. Wat 'n heerlike uitstappie.

Boontjie stalletjie

Groente

Waatlemoene

Dit is snikheet hier in Turkye.