Monday, August 24, 2015

Aigina. Afskeid.



24 Augustus 2015. Maandag.

My seun Gerrit verjaar vandag. Baie geluk Gerrit. Dankie, dat jy ons huis so mooi oppas terwyl ons weg is.

Vandag is dit die groot koebaai. Chris en Zane verlaat ons vandag. Hulle drink kapteinskoffie en saal op vir die stap na die hawe waar hulle die veerboot kry. Ons groet en 08:00 vertrek hulle met die Vlieënde  Dolfyn na Athene, waar hulle vandag en môre die antieke stad gaan verken.

Saal op
Op pad na veerboot
Waar's die veerboot
Gaan aan boord
Daar trek hulle


Daar is ’n tyd om te kom en ’n tyd om te gaan. En daar gaan hulle en los vir my en Archie alleen agter.

Ons gaan koop toe maar pistachio neute, want Aigina is bekend vir sy neute. Die hele eiland is vol pistachio neute wat in drag is.


Pistachio neute aan die boom


Terug by Maja is daar geen vervelige oomblik nie. ’n Man probeer by ’n “no anchor”plek inkom. Hy wil-wil sy anker dwarsoor ons anker gooi. Archie skree saggies op hom en hy gooi ons anker mis. Dis ’n benoude spasie waar hy ook skerp moet draai en Gus waai sy boot skeef., Hy begin vorentoe ry met sy anker wat in die water is. Ons hoor en voel hoe sy ankerketting oor ons s’n trek en ons anker ruk en pluk. Archie skree harder op hom en ek skree die hardste. Hy luister na ons en vaar agteruit. Ons anker lyk nog veilig.

Hy probeer sy anker optrek, maar o wee! Hy sukkel! Sy anker het vasgehaak aan dieselfde vasmeerketting  waaraan ons verlede jaar vasgehaak het. Hulle praat Frans en hulle sukkel. Archie verduidelik vir hulle en demonstreer met ’n tou wat hulle moet doen om los te kom. Na nog ’n gesukkel is hulle los en kies die hasepad uit die hawe.

Sukkel met anker
Gee leiding

Later die middag sien ons Maja waai teen die kaai. Die Franse het seker ons anker versteur en noudat Gus van voor af waai, waai ons teen die kaai. Archie trek die anker in. Eers op 15m byt dit weer. Het, het 10m ketting ingetrek. Dis maar min ketting wat ons op die bodem het. Ons hoop maar vir die beste.


Aigina.



23 Augustus 2015. Sondag.

Roete tot op datum
O. Bistiou tot Aigina


Na ’n baie lang, winderige nag, breek ons gaste se laaste dag op die water in Maja aan. Chris swem land toe om die toue los te maak, ek trek die anker op en ons vertek op ons laaste skof na Aigina, 37°44.693 N, 23°25.701 O, 13 myl.


Vroeg wakker
Speedo Gonzales


Chris is baie opgewonde, want die seile word gespan en ons seil en later motorseil na ons bestemming. So kom alles tot ’n einde. Die laaste skof word met ’n tikkie hartseer afgelê. Voor ons lê Aigina Eiland met die dorp, Aigina in die vlak water. Mens moet maar versigtig hier vaar, want hier is allerande vlak plekke, riwwe en mensgemaakte riwwe.

Ons vaar die hawe binne en hoop daar is plek. Aigina is ’n baie besige hawe, want dit is naby Athene. Ons kry dieselfde plek waar ons verlede jaar vasgemeer het. Ons weet uit ondervinding dat daar sementblokke en kettings is waaraan jy kan vashaak en gooi so anker dat ons dit nie weer tref nie (hopelik). Ek gooi, Chris is gereed vir afspring op die kaai en Zane is gereed om te keer as dit nodig sou wees. Daar is helpende hande op die kaai en die vasmeer verloop seepglad. 

Veilig vas


Ons gaan later dorp toe en kyk na die kerkie en geniet sommer net die rondloop in die dorp. 

Gaan dorp toe
Kerkie op die kaai
Binnekant
Archie en ek
 

Die laaste sundowners word vir oulaas op Maja se dek gedrink en ons klink glasies met die wete in ons harte dat dit nou verby is. Voor ons weet is die tyd saam met Chris en Zane net ’n aangename herinnering waarvan ons later in ons boek sal lees.

Die laaste aandete, die laaste ..., die laaste...

Poros Eiland. O. Bistiou.



22 Augustus 2015. Saterdag.

Poros to O. Bistiou

Ek neem swaar afskeid van Poros. Ons vertrek uit die mooi baai en seil uit na die noordekant van die eiland Poros na die ankerplek O. Bistiou. Dit is ’n baie smal baai en ons vaar na die volgende baai, maar dit net nie genoeg beskutting nie. O. Bistiou, 37°32.770 N, 23°28.923 O, 13.8 myl is ons voorland. Ons gooi anker en neem ’n lang tou na die land en maak aan die rotse vas. Die baai het nie skuiling teen die oostewind nie. 

Seil rustig

O. Bistiou


Die water is heerlik en Archie, Zane en Chris swem land toe en soek vir skatte. Archie kry ’n mooi dryfhout vir my en Zane vind pragtige geel en groen seep-pampoentjies. Die see is heerlik lou, eintlik te warm om mens af te koel.

Daar is versoeke om sangaand te hou. Na aandete begin Gus met sy manewales en die sangaand sterf n baie vroeë dood. Die melodieë word as't ware in die wind weggewaai en die lus word geblus. 


Probeer sing


En natuurlik waai hy uit ’n noord-oostelike rigting en Maja wieg heen en weer in die golwe wat in die baai ingerol kom. Sulke deinings sit baie stremming op jou anker en Chris maak kennis met nagwaak. Die ou tweetjies kan die nag glad nie slaap nie. Daar is wind en baie geluide op Maja as die wind waai. Dit sal hulle leer om my te spot oor nagwaak! 

Ek en Archie sit op die dek en nagwaak. Die deinings het die fender wat ons op die landtou vasgeknoop het se knoop losgeskut en Archie sien hoe hy vinnig wegdryf, gelukkig land se kant toe. Dit begin reën en ons moet binne toe. Gelukkig hou die reën nie te lank aan nie en ek maak vir my lêplek op die dek. Gus waai tot 03:00 en draai toe, waai nou vanuit die suide. Almal kan toe bietjie slaap, maar nou waai Gus in die see se rigting en ek hou die water dop om te sien of die fender nie nou oop see toe gaan waai nie. Die bietjie maan gee genoeg lig om die wit van die fender in die donker te sien.

Archie gaan slaap en ek sluimer ook in. Vroeg die volgende oggend vroeg swem Archie land toe en kry die fender omtrent 3m van die see op droë land.

Almal maar effe moeg.