19 Augustus 2017. Saterdag.
 |
Ermioni tot Tselevinia |
Anker op en weg is ons na Tselevinia, 13 myl. Dis
mos die simpel stuk see waarvan ek nie hou nie. Gus is mos vreeslik wispelturig
hier. Weet nie waar vandaan hy moet waai nie. Weet nie wanneer hy moet waai
nie. En dan lê hy, dan ruk en pluk hy. Maar die bemanning wil seil.
Dan is die seile op, dan ruk Gus ons dat ons
skuins lê net om my te ontstel, dan lê hy weer so ’n bietjie. Michelle en Johan
geniet die geseilery en gee nie om as ons skuins lê nie en om te help om die
seile groter en kleiner te maak nie. Hulle trek toue en laat skiet soos
meesters. Dis net ek wat nie van die omval hou nie.
En so omvallerig, kom ons toe uiteindelik by
Tselevinia aan. Ons kan dié plek al ons eie noem, want ons is gedurig hier. Ons
gooi anker en vas is ons in die mooi baai. Die jonges baljaar soos kinders in
die see. Hulle snorkel en swem en spring van Maja se snoet af.
 |
Swem |
 |
Daar gaat hy |
 |
Vlieënde Visser |
Ons blaas die lilo's op en toe lag ons vir Johan wat
so sukkel om op die gladde ding te kom. Ongeduldig help Michelle om die ander
een op te blaas. Sy kan nie wag om in die water te kom nie. Toe lê die
tweetjies te heerlik op die lilo's en geniet die somer, son en saffier.
 |
Uiteindelik bo-op |
 |
Sonbaai |
Natuurlik swem die oues van dae ook en dit word ’n
heerlike dag. Vergete is my vies wees vir Gus! Toe Johan eers die snorkel onder
die knie kry, is daar geen keer aan hom nie. Hulle bekyk die onderwater tonele
en verstom hulle aan die verskillende spesies visse. Toe die een snorkel se
glasie uitval, maak hulle beurte. Michelle swem met die noedel, terwyl Johan snorkel
en dan ruil hulle weer om. Hulle het later krokodilvel van al die geswem. Ai,
maar die kinders geniet dit.
 |
Klaar geswem |
 |
"Ek kyk graag so diep in jou oë …" |
|
Ons eet
souvlakias
wat in Ermioni gekoop is en Suid-Afrikaanse pap. Dit is ’n heerlike afsluiting van ’n baie
genotvolle dag.
 |
Sundowners |
 |
Pap en vleis |