12 Mei 2016. Donderdag.
 |
Korfos tot Poros |
Alles is dof. Alles is dof en
deinserig. Die mis wys met mistroostige dowwe vingers van die berge na die see.
Die son sukkel-sukkel sonder sukses om deur die wolkkombers te breek om die mis
te verslind tot niks. En ons vaar maar net, sonder sien. Vorentoe, altyd
vorentoe.
 |
Alles is dof |
Die water is rimpelloos-glad.
Dolfyne swem in stadige aksie in die see. Sierlik, maar net effens uit die
water. Skaam en skugter. Ons is deel van ’n groter geheel van ’n inmekaar ingevlegte
werklikheid. En ons vaar, met die wonder van sien. Vorentoe, altyd vorentoe.
Pragtige Poros lê doodsbleek in die
baai. Die wolke maak hom grys en grou en oud, sonder kleur en fleur amper asof
hy stom is, sonder sê of stem.
 |
Poros |
Ons kry ’n plek
langs die kaai en na vele geredewawel, is ons reg vir ankergooi en Archie tru.
Met nodige afstoothande en toue en
fenders, is ons vas en veilig.
Genade, maar
ons bure raas. Ek dink hulle praat Russies, maar hulle praat dit baie hard en
aanmekaar en dan skaterlag hulle en drink nog vodka en eet brood en drink weer
vodka of iets. Dis net ’n klomp mans, sommige met hare, ander sonder hare,
ander grys hare en party jonk. Daar is net ses van hulle op die jag, maar hulle
klink na ’n skare.
Ons gaan
stap toe maar om van die lawaai af weg te kom en ek verlang na Korfos. Die son
maak so nou en dan sy verskyning en dan lyk alles fleurig en kleurvol.
 |
Langs die kaai |
 |
Poros waterfront |
Hulle
voorspel suidewind vir middernag, maar toe ons gaan slaap, waai nie ’n briesie
nie. Dit was seker maar die stilte voor die storm, want 23:40 begin daai Gus
uit volle bors te waai. Maar en het gesien hoe het daai anker gebyt, ek weet ons
is vas en veilig. Gus waai vir twee ure en gaan lê toe.
Die kaptein
hoor niks, hy slaap soos ’n flippen baba.