18 Mei 2016. Donderdag.
 |
Portocheli tot Koiladia |
Gumnuts is weg toe ons opstaan. Ons
anker gaan op en die sigeuners val in die pad. Na die volgende onbekende stopplek
wat nadat daai anker geval en gebyt het, verander na die bekende. “Home is
where the anchor drops”. En vandag is dit Koiladia, 36°24.945 N, 23°07.857 O,
12.3 myl.
Gus waai lui-lui, maar ons nuwe
seilkennis word dadelik ingespan en die seile word gespan. En ons seil. Die kaptein
glimlag breed. Martin het darem gesê dat Archie se basiese kennis van seil is
baie goed! Hy het ’n baie goeie idee wat om te doen. Nou oefen ons.
 |
Ons seil ... |
 |
... en die Kaptein glimlag breed! |
 |
Koiladia |
Ons gooi anker in die baai en Archie
kry vir Dinkie gereed. Enjin en al. Ons wil dorp toe en te vêr vir roei. Gus
waai en ons wag toe maar eers dat hy gaan lê. Dis koudterig en ons sit knus binne-in
die saloon. Iemand fluit buite. Archie gaan kyk. Dit wat hy toe sien laat ons
hare rys!
Dis ’n man in ’n dinghie. In sy hand
het hy ’n tou. Aan die punt van die tou is Dinkie! Haar knoop het losgekom en
sy het weggedryf, oop see se kant toe. Gelukkig het die man die dobberende
bootjie gesien, in sy dinghie geklim en dit gaan red. Gelukkig is Maja se naam
op Dinkie en toe weet hy na watter boot om te soek. Duisende dankies aan die
man! Verlede jaar in Ciftlik, Turkye, het Archie ’n man met ’n vasgehaakte
anker gaan help (hulle was vir ure besig) en ek het vir Archie gesê sy goedheid
sal beloon word. Vandag is dit dubbel en dwars beloon!
Toe gaan ons dorp toe en daarna na
die grot toe. Mense het sedert 40 000 v.C. in die grot gebly. Hier is meer
inligting oor die grot.
 |
Franchthi Grot inligting |
 |
Grot ingang |
 |
In die grot |
Die son sak neer en maak ’n einde
aan ’n dag vol dankbaarheid. Dinkie is stewig op Maja se snoet vasgemaak,
voordat sy weer ontsnap.
 |
Die son sak |