28 Julie 2019. Sondag.
![]() |
Nikiti tot Yerakini Baai |
Gisteraand het die son vir oulaas dramaties mooi gesak
op die laaste dag hier by my veilige hawe, Nikiti. Gaan die malhuis vol
mense mis.
Nikiti - vorige aand |
Ons
vertrek na Yerakini, 11 myl waar ons gaan anker. Ons verwag bietjie
suidewinde wat die ankerplek maar hopladi hoplada gaan laat hop. Ek hou
maar my snater, want ons het vier nagte in die hawe gebly.
Ons
gooi in 8m anker, waar die modder begin en die seegras eindig. Die
anker byt lekker stewig en ons is reg vir die gehop, wat later gaan kom.
Ons is hier in die noordelikste deel van die skiereiland en die boek sê
die weer affekteer nie die baai nie. Dis net die deinings wat kan inrol as
die wind in die ander dele van die golf waai. Meer ongemaklik as
gevaarlik.
Die kaptein
neem die snorkel en bevestig dat die anker regtig goed gebyt het. Môre
gaan ons onder deur die Portas Kanaal brug vaar. Die brug is tussen 16 en 18 m
hoog. Elke bron gee 'n ander hoogte. Maja se mas is 15. iets m hoog,
(sommige specs sê 15.1m ander sê 15.4m) vanaf watervlak. So, ons behoort
dit te maak.
Yerakini Baai |
Ons gaan
ook nie die eerste skiereiland besoek nie, want aan die westekant is
daar net Sani Marina, teen €120 per nag en nog 'n hawe. Nie baie
skuilplek op daai skiereiland nie.
Wel,
dit hét gehop in die baai. Golwe van 2m tot 3m hoog het hier ingerol, klein
begin en geleidelik groter geword. Toe na middernag weer geleidelik
kleiner begin word. Maar nooit opgehou nie. Dit het my baie moerig
gemaak.
En "back at the
ranch", dis nou in Athene, beroof die sakkerollers vir Pierre. Dit was
by 'n voetoorgang. Hy het 'n mansak oor sy skouer gedra. Hy het 'n stamp
gevoel en toe bietjie later weer 'n stamp. Minute later het hy gesien
dat sy sak se ritse oop is. En sy wallet is weg! Met 'n klomp
vakansiegeld, al sy kaarte, bestuurslisensie. Die bliksems! Gelukkig nie
die paspoorte nie.
Wat 'n uiters aaklige dag!