10 Mei 2019. Vrydag.
Eerste
dinge eerste. Archie en Sullivan trek die genoa op. Die swartwater moet uitgepomp word. Ons roep die
marina om ons uit te kom help en pompstasie toe te neem. Archie maak
solank die swartwatertenk oop. Maar o wee, dit wil nie oop nie. Toe is
dit "hamer, spyker, slaan die spyker op sy kop", maar puur verniet. Die ding wil nie oop nie! Met
behulp van 'n klomp verskillende gereedskap en twee perdekrag, weier
daai silwer propding nog steeds om oop te gaan.
Dis
na 'n behoorlike gesukkel en kragvertoon deur die twee makkers, wat
simbolies op hulle knieë is, dat dit genadiglik oopgaan. Die propding
het behoorlik vasgeïets gedurende die winter. Toe maak ons los, verlaat
ons huis op die India kaai en vaar na die uitpompstasie toe, waar die
pomper die nodige pompwerk doen. Toe vertrek ons na Çiflik, 11.9 myl,
waar ons na Mehmet se restaurant kaai toe gaan.
 |
Genoa is op |
 |
Sukkel met swartwatertenkprop |
 |
Pomper pomp |
 |
Swartwatertenk |
Van
seil is daar geen sprake nie, maar van reën wel. Die son kruip al weer
weg, die wolke het die oorhand. So vaar ons voort, met Sullivan agter
die helm. Hy is mos hoeka met die helm gebore, kan sy hande nie daarvan
afhou nie.
 |
Sterre in die oë |
Çiflik kom nader en ek dink onwillekeurig aan Francois en Roelien, wat verlede jaar saam met ons hier in Ciflik by Mehmet's Place was. Lekker tye daai.
Ons
man waai op die kaai en ons mik soontoe. Dis tradisie dat ons na Mehmet toe gaan. Jaar na jaar. Archie tru meesterlik,
Sullivan vat die snoettou vorentoe en Ali help vasmaak. En ons eerste
vasmeer van die seisoen loop goed af. Sullivan maak maar vir ons warm
drankies, want dit is lekker koud. Te koud vir "cold beverages". Ail, die nuwe tipe van bestuurder kom stel homself aan ons voor. Hy is Mehmet se suster se dogter se man.
 |
Mehmet's Place |
 |
Archie en Ali |
Na
'n heerlike middagete, gaan stap ons en Çiflik bly maar mooi. Daar
onder wag Maja, langs haar Duitse vriendin, op ons terugkeer.
 |
Uitsig oor baai |
 |
Uitsig |
Ons
gaan stap verder, die vallei op. Die berge troon bo ons uit en ek besef
weereens dat Turkye 'n baie mooi land is. Ai, dis so lekker om hier te
stap. Langs die pad is 'n fontein waar jy kan stop en water drink.
Bekertjie en als. Jy kan die fontein in die water proe. Pure "Turkish
delight"!
 |
Ons gaan stap |
 |
Drink water langs die pad |
Ons eet so
bietjie wit moerbeie langs die pad. Ou Sullivan was eers baie skepties
oor of die moerbeie ryp is, maar toe proe hy die heerlike soet op sy
tong. Te lekker!
Na 'n
heerlike stort is ons aldrie skoon en pragtig en ons stap na Mehmet se
restaurant vir ons aandete. Dis darem sukke gawe mense hier. Mehmet het
afgetree en sy suster en dié se dogter met haar man, Ali, is nou aan die
stuur van sake. Hulle maak tot vir ons 'n vuur. Te gesellig. Dis nogal koud hier in die geweste as die wind van die see se kant af waai.
 |
Gaan uiteet |
 |
Op die kaai |
 |
Mehmet se mense |
 |
Kaggel-koud |
 |
Sullivan, Ali, Koray en Archie |
Ek
eet gebraaide seekat, Archie kies 'n geurige hoender kasserol en
Sullivan eet Levrek (vis). Ons smul behoorlik! "Dankie Sullivan, dit was
heerlik"! Ons kuier behoorlik lekker in die huislike restaurant en dit
word 'n besonderse aand, wat afgesluit word met 'n bord vars vrugte. Wat
'n voorreg om hier te kan wees. Veral vir Archie, want dis kosbare
oomblikke saam met Sullivan, sy ou skoolmakker.
 |
Levrek |