22 Augustus 2014. Vrydag.
![]() |
Çeşme tot Kara Eiland |
Dis vandag die dag van bevryding. Van hoop en wanhoop.
Die motor is in. Nou sukkel hulle met die instrumente se bedrading. Ek los dit vir die manne en gaan sit en wag op 'n klomp ou matte. Die man van die groot masjien staan ook al nader om Maja weer in die water te laat.
Instrumente word ingesit |
Om 13:00 is dit sukke tyd. Bande omvou haar romp en Maja word water toe gery. Sy wieg liggies in die bande. Die hele span staan en kyk (en hou asem op, gaan die motor werk?).
Die span |
Sy word stadig laat sak en toe word sy weer een met die klamheid van die water. Die druppels gryp na haar en sy gee haar oor aan die nat. Die bande sak en sy dryf.
Nuwe verf op romp |
Water toe |
Pens word nat |
Ons klim. Ojan en sy mater klim. Die res staan langs Maja op die kaai. Jy kan die spanning aanvoel. Ojan skakel aan. Maja dreun saggies, geen harde geprrr nie. Sy het gevat! Maar daar kom nie water deur die verkoelingsisteem nie. Archie sê hulle moet eers die seewaterpomp "prime". Ou Slimjan is reg, want met die volgende aansluit, werk dit.
En daar trek ons met die seeproefrit. Hemel, en sowat van spoed! Ons vaar teen 7.6 knope. Sy klink so sag en ons is verlig. Die motor pas, dit werk, die instrumente werk en alles is hankiedorie! Wat 'n verligting!
Ons meer vas, laai die manne af en ons sit ons reis voort. Met 'n sagte, splinternuwe motor. Ons gaan weer na Kara Eiland (38°25.884 N, 26°21.067 O), dieselfde baai waar die motor die gees gegee het. Dis net 10 myl tot daar. Ek is bietjie benoud, veral as ek dink aan ons angs van 'n week gelede. En die ankers byt ook mos nie hier nie. Archie tru, ek gooi en na die derde probeerslag byt daai anker met mening.
Kara Baai |
Die spanning dreineer uit ons lywe en ons raak rustig. Na soveel drama, kan ons ons vanaand oorgee aan die luukse van 'n vreedsame aand op anker.