12 Junie 2016. Sondag.
 |
Skiathos na Loutraki |
Vandag verlaat ons vir Skiathos na ’n lang kuier van vier
dae. En met nuwe bloed aan boord. Ons roete neem ons na Skopelos Eiland en wel
Loutraki Baai, 39°09.866 N, 23°36.963 O, 14.2 myl, waar ons gaan anker. Van anker gepraat, ons moet dit eers uit die
water kry. Ons anker het mos 50 m ketting en 10 m tou. 53 m is uitgelaat en
Archie moet die eerste deel optrek, want ek het nie die krag om die tou op te
trek nie. Ek is agter die helm, Louise en Yvon keer af en Archie trek op. Dit
gaan goed, die ankerketting rol in. Toe stop dit. Ons anker is vas
 |
Anker sit vas |
Archie trek op, met fors en die groot boot, tweede van ons af,
se anker beweeg. Hy het na ons ingekom en so skeef gegooi dat sy anker oor ons
s’n is. Dit beteken dat June en Paul, die Suid-Afrikaners, hulle anker oor die
karnallie s’n gegooi het. Archie trek die groot boot se anker totaal uit die water. Hulle
sal hulle anker weer moet gooi en in die proses Paul-hulle se anker ook versteur.
Ons gooi die anker terug in die water, Paul en June wuif en groet en weg is
ons.
 |
Weg is ons |
Archie vaar langs Skiathos se kuslyn op dat ons kan sien hoe
lyk dit. Daar is mooi ruwe rotse en ons vaar by Kastro verby. Dit is ’n ou fort
met ruïnes
van ’n antieke dorp waarheen die mense toentertyd gevlug het as die seerowers
gekom het. Dan het hulle die valbrug opgetrek en die seerowers kon nie in die
stad gekom het nie.
 |
Kastro met sy valbrug |
 |
Kyk daar is Kastro |
Ons draai in die rigting van Skopelos eiland en toe Gus reg
waai seil ons vir omtrent 10 min. Gus gaan lê en af is die seile. Yvon en
Louise, wat ook ’n baie klein seilboot in Kanada het, is beïndruk oor hoe
maklik dit met Maja is.
Ons vaar die baai binne en gooi twee keer anker. Die eerste
keer op seegras en die tweede keer op sand en hy byt dat dit bars.
 |
Loutraki Baai |
 |
Louise, Yvon en ek by Loutraki Baai |
Toe is dit staptyd. Ons durf die roete aan , boontoe, na die
dorpie, Glossa. Dit is heetwarm en die sweet tap ons af. Bo gekom besluit ons
om na die kerkie van die fliek, Mamma Mia, toe te stap. Die Griek se dis net
twee km tot daar, maar Archie sê hy het uitgewerk op Google Earth, dis 6 km. Ek
glo die Griek, want ek wil baaie graag soontoe gaan.
 |
Glossa |
 |
Uitkyk oor Loutraki van Glossa |
Ons begin te stap en ons stap en ons stap en ons stap. Die Griek
se twee km word langer en langer en langer. Toe sien ons die kerkie in die
verte. Prentjiemooi. Ek bars amper in trane uit van mooigeid. Ons almal word
soos wafferse akteurs met die kerkie in die agtergrond afgeneem.
 |
Mamma Mia! Dis die kerkie! |
 |
Ek en Archie |
 |
Yvon en Louise |
 |
Ek en Louise |
Ons stap nog ’n ent aan. Die blerrie kerkie is wraggies 6
km. Dit raak laat en dis nog 2 km tot daar. En dan nog 6 km terug en nog die 2
km af tot by die hawe. Dis mos nou heeltemal te veel gevra vir moer-toe knieë. Ons
gaan donkeraand eers terug wees. Ons draai om en stap terug. Maar ons gee nie
om nie. Skopelos is pragtig en die staproete nog mooier. Archie was reg oor die afstand na die kerk.
 |
Stap te lekker |
 |
Kerkie is nog vêr! |
Ons kom by Maja en toe is daai water lekker. Ons laaf ons
lywe in die koel verfrissende water. Wat ’n besonders dag. Die stap saam met
ons stapvriende, omtrent 10 km, van 14:00 tot 19;00 die pragtige uitsig op die
kerk, die swem in die blou Meditereense See.
Hierdie gaste van ons is modelgaste. Die aand
sing hulle vir ons Franse liedjies. So, Deon, Ryna, Fanie en Elize, oefen
solank julle stemme! Werk aan julle Franse liedjies!