Sunday, June 7, 2015

Baba Adasi.


7 Junie 2015, Sondag.

Ekinçik tot Baba Adasi


‘n Groot gulet het gister langs ons kom vasmeer en ons ankers lyk of dit baie naby mekaar lê, indien nie oormekaar nie. Ek en Archie het gister in Dinkie geklim en probeer kyk of ons kan sien of ons ankers oormekaar is, maar het niks gesien nie. Die lig was al baie swak. Vanoggend het Archie weer gekyk en gesien dat die ankers net-net nie kruis nie. Ons slaag n sug van verligting.

Maja en die gulet
"Anchor check"


Ek en Leon maak los en Archie en Dirk trek die anker op en ons vertrek na Baba Adasi, 36°41.750 N, 48°41.820 O,13 myl. Dit is maar n taamlike vervelige pad. Ons eiland (‘n adasi is ‘n eiland) het interessante rotse en ons vaar na die ankerplek. 

Baba Adasi
Interessante rotsformasies


Archie kry die posisie reg, ek en Dirk is by die anker, gereed om te gooi en Leon sit reg met die selfoon om die ankerwag knoppie te druk as die anker die grond tref. Archie gebruik die app op die selfoon se GPS om te sien as die anker sou sleep. As Maja buite die sirkel sou beweeg, gaan ‘n alarm af om ons te waarsku. Almal doen hulle deel en ons is maklik en vinnig vas. Archie toets die anker en almal is  tevrede.

Leon en Dirk gaan eerste met Dinkie eiland toe. Hulle loop die eiland plat, verken al die ruïnes en begeer potskerwe. Met hul terugkoms baai hulle die warm lywe in die koel blou lafenis. 

Dinkie
Grotte


Toe is dit ek en die kaptein se beurt eiland toe. Dinkie is maar ‘n pikante ou dingetjie en kan net twee mense op ‘n slag vervoer. Ons loop die steil paadjie en kyk na die ou vuurtoring en kyk af op Maja wat daar onder lê. Twee vae figure is op Maja te sien. 

Bote op anker
Vuurtoring
Uitsig van vuurtoring


Dis ‘n heerlike en rustige Sondagmiddag. Almal is vreedsaam.

Lees lekker

Dalyanrivier. Dirk verjaar weer.



6 Junie 2015, Saterdag.

Ons bly nog ’n dag by Ekinçik, want ons het ’n toer op die Dalyanrivier bespreek. Maja moet nou na veiliger waters verskuif word, want ons gaan die hele dag weg wees. 08:00 trek ons anker op en skuif Maja na die kaai en ’n vasmeerman staan gereed met die snoettou. Ons maak vas en die rivierboot staan gereed om ons op ekskursie te neem. En daar trek ons. Dit was eintlik veronderstel om ’n verrassing te wees vir Dirk se verjaarsdag, maar dis nou ’n dag laat, so hy verjaar maar weer vandag. 

Rivierboot

"Captain Arch and me"
Ingedagte


Dis net ons vier op die rivierboot en eers vaar ons op see. Ons kaptein wys ons eers ’n gat in die rots en ons oo en aa en vaar verder. Toe is dit die Dalyanrivier se beurt om verken te word. Ons vaar deur die riete en dit laat vir my en Archie dink aan die Oranjerivier. Dirk verkyk hom aan alles en Leon lewer voortdurende kommentaar.



Leon, fotograaf en kommentator
Bootdakkies in rietbeddings


Ons kom by die krapboot in die rivier en bestel ons krap vir aandete. Ons sal dit oplaai as ons vanmiddag terugvaar. Dis soos ’n “drive thru” wat net die hele dag vat. Ek het nog nooit krap geëet nie.

Ons eerste afklimplek is die ruïnes van die antieke stad van Caunos. Ons betaal ons Tl 10 per persoon en begın ons verkennıngstog. Leon wıl net heeltyd potskerwe optel en dan sê ek vır hom dit ıs steel, hulle gaan sy hand afkap. En ’n skrywer het ’n hand nodig. Ons kyk na die teater wat 5 000 mense kon huisves. Die mense van van ouds was darem lief vir teater. 

Ruïnes van antieke Caunos
Amfiteater


Toe is dit op op op na die akkropolis. Ek loop halfpad op en neem ’n ander pad na ’n uitsigpunt, terwyl die manne soos klipspringers die rotse uitklim. Tot bo en daar word hulle beloon met die mooiste uitsig.

Akkropolis met antieke hawe in die agtergrond
Dirk (effens uitasem) en Dalyanrivier delta
Dalyan


Ons uur is op en ons kan nie die res van die antieke stad besigtig nie. Ons klim in ons rivierboot en vaar verby die graftombes wat in die rotse uitgekap is. Dis vir Archie en Dirk ook baie indrukwekkend, maar die skrywer sê hy hou nie van grafte nie. 

Graftombes


Ons geniet ons vaart en die volgende stopplek is die modderbaddens en die warmbron. Gewapen met ons swemklere durf ons dit aan. Leon is maar sku vir die gedoente en kry net ’n blerts modder op die voorkop, maar ek, Archie en Dirk druk deur. Dis effe grillerig en stinkerig. Dirk trek ’n gesig, maar hy smeer. Die modder maak jou blykbaar jonk en aangesien Dirk verjaar en nou soveel ouer is, probeer hy nou maar sy jeug terugkry deur die stink modder op sy hele lyf te smeer. Ou Archie doen dieselfde en smeer oraloor. Ek smeer ook, maar Leon neem die veilige uitkoms en neem die rol as fotograaf in.

Ons gril en smeer
Modderbad


Toe durf ons die warmbron aan. Dit ruik na ’n blougekookte padkos eiers, maar ons gaan in. Almal se gesigte is effe vertrek oor die reuk. Ons gaan spoel ons onder die koue stort af, maar die stink kleef aan ons. 

Warmbad


Stink-stink geniet ons ’n piekniek middagete en vertrek toe na die dorpie, Dalyan. Dis ’n vreeslike oulike toeriste dorp met baie atmosfeer. Dirk en Leon geniet hulle gate uit en ek stap net rustig rond, gaan sit op ’n bankie en kyk na die rivier. ’n Lomerigheid oorval my en ek lê op die bankie met my kop op Archie se skoot.

Ons stap na die restaurant waar ons boot gestop het, drink ietsie en vertrek op ons terugtog. Dis heerlik om op die rivier te vaar. Oral langs die rivier is riete en die water lyk amper groen. Dirk knip ’n uiltjie toe die lomerigheid hom oorval. Ons kaptein stop by die krapboot en ons laai ons aandete op. Klaar gekook en gekap. Ons kan nie wag nie.

Dis nog net die laaste stuk see wat ons moet oorsteek, dan is ons tuis. Die Dalyanrivier verdwyn agter ons is word deel van die verlede wat net in die hede kan bestaan deur beelde wat op film vasgelê is.

Ons pak ons aandete aan en ons kraak en krap aan die krap. Elke krieseltjie word uitgehaal en geëet. Die baie klein stukkies word met ’n tandestokkie uitgekrap. Ons eet heerlik en daar bly net ’n bak vol skulp oor.

Krap


Wat ’n lekker verjaarsdag vir Dirk. Ons waarsku hom dat hy beslis nou klaar verjaar het!