Tuesday, May 14, 2019

Knidos

13 Mei 2019. Maandag.

Mesundiye tot Knidos
Mesundiye is pragtig en vreedsaam in die vroeë oggendlig. Sommer lus om nog te bly. Maar ons is seilende sigeuners, die wapad is ons woning. So, hier gaan ons! Knidos, 11.6 myl, is vir ons 'n bekende plek. Ons was al talle male hier en ons hou nog steeds van die antieke ou stad se baai om in te anker. En toe maak ons so. Ons prrr vorentoe, altyd vorentoe.
Vroegoggend Mesundiye

Sullivan gooi vandag anker en hy moet die sandkol uitsoek. Die anker byt, maar ons eindig te naby die jettie en ons trek op. Die volgende probeerslag byt daai anker nie, maar "third time lucky", en ons is vas en veilig.

Sullivan gaan verken die antieke stad. Archie neem hom met die Dinkie kaai toe en kom terug na Maja. En Sullivan dwaal tussen die ruïnes van vergange se dae rond.
Archie op pad terug

Toe Sullivan klaar gedwaal het, roei Archie weer kaai toe en die makkers gaan stap berg-op. Ek kuier heerlik alleen saam met Maja in die baai. Ek durf die koue water aan en na 'n effense gedempte gilletjie kry ek my eerste swem van die seisoen. Koud, verfrissend en lekker. Geniet dit terdeë. My knieë vertel my dat die water koud is, maar ek meermin in die water rond. Daarna is dit 'n vinnige stort en voel soos 'n nuwe mens.

Die makkers kom terug. Die kaptein lyk maar gehawend. Hy wou 'n mooi foto vir vroulief neem, toe val hy vas in die pynbos, ek bedoel eintlik fynbos. Die persoon wat die woord "fynbos" vir dié plante gegee het, moet sy kop laat lees. Dis allesbehalwe fyn! Hulle het darem mooi foto's gekry.
Ou oorlogskiphawe (trireem)
Ou hawe

Die makkers besluit ook dat dit die ideale tyd vir swem is. Die water is weereens kristalhelder, pragtig. En die sout seewater ontsmet sommer ook al Archie se wonde.

Aandete is pasta en pesto met die son tussen die palmbome wat nog 'n dag vaarwel toeroep.
Sonsondergang