20 Augustus 2016. Saterdag.
 |
Keçi Bükü tot Bozburun |
Rimpelloos het ons gaan slaap en rimpelloos
staan ons op. Vandag is dit Bozburun se omgewing. Daar is ’n klomp ankerplekke
en ons sal maar besluit waar om te anker as ons daar kom.
Die omgewing is besaai met hoë berge
wat minder en meer mistig in die vêrte pryk. Bote kom en gaan. Dis gewilde seil
gebied hierdie. Gus waai net liggies en die son skyn helder. ’n Paar wolke hang
in die lug, wat later soos mis voor die son verdwyn.
 |
Oggendskoot - Vêrte |
Ons kom by die vlak deel tussen die
eilande waar ons wil anker. Dis oorvol en geen plek vir ons nie. Ons vaar om die
hoek en die baai is te diep. Ons vaar stry-stry verder en na ’n erge stry gooi
ons anker in Bozburun, 36°41.247
N, 28°02.136 O, 19.4 myl.
Dis ’n mooi baai met
die dorp wat daar anderkant met ’n maswoud vir ons glimlag. Ons is te vêr van
die dorp af, so ons gaan stap maar op die droë land. Dis altyd vir ons vreeslik
mooi om af te kyk en te sien hoe vreedsaam die bote in die baai lê, sierlik en
trots, sonder ’n kwelling.
 |
Maswoud |
 |
Bosburun baai |
 |
Binneland |
 |
Borrel van windlose geluk |
 |
Kaptein |
 |
Geroeste skeepslee |
 |
Laatmiddag berge |
Archie swem amper saam met ’n skilpad.
Hy probeer hom inswem, maar ek dink skilpaaie kan vinniger swem as wat hulle
kan loop. Hy verdwyn onder die water (ek bedoel nou die skilpad) en weg is hy.
Dis nog ’n stil
rimpellose nag, in my borrel van windlose geluk.