Friday, August 15, 2014

Turkye. Ag nee, wat nou?!

14 Augustus 2014. Donderdag.

Hoteleratan tot Çeşme via Kara Eiland

Vandag gaan 'n luilekker dag wees. Ons gaan na Kara Eiland (38°25.300 N, 26°20.700 O), en dis net 6 myl en dan is ons daar by die baai waar ons moet anker. Ek wil net 'n bietjie rustig wees en asem skep na ons laaste kuiergaste, Gerrie en Ansu.

Ons vertrek 11:00 en Gus waai van voor. Die baai is redelik smal en daar is reeds 'n paar bote geanker. Die motorboot voor ons, trek anker op en soek ander plek, want sy anker het nie gebyt nie.

Naby Kara Eiland

Ons gooi anker en dit byt nie. Ek trek op, dis vol seegras. Ek soek 'n kol wat lyk na sand en ek gooi. Archie tru en skielik stop hy. Ek kyk na hom en hy sê sy enjin het net gevrek.

Nou is die anketketting op die bodem, maar ons is nie regtig geanker nie. Archie gee die opdrag dat ek nog ketting moet uitlaat, in die hoop dat die swaar ketting se gewig sal help om ons geanker te hou.

'n Ander klein motorboot trek sy anker op en gooi sy anker weer, so half oor ons s' n. Gelukkig waai Gus net liggies. En daar sit ons in 'n smal baai, effens geanker met 'n vasgeslaande enjin. Archie sê ons moet wag dat die enjin afkoel, miskien sal dit dan weer draai.

Hy probeer, maar daai enjin is rotsvas. Maja sê net "klo". Dis toe al 14:30 en die enjin is kaput. Ag nee, wat nou?! Ons moet daar uitkom voordat dit donker word en na 'n marina seil. Vir die volgende twee dae word daar geen wind voorspel nie, so ons kan nêrens heen seil nie. Ons moet nou na Setur Marina seil.

Die probleem is hoe seil ons uit hierdie smal baai?! Archie begin die anker met die hand optrek, want ons moet ons huisbatterye spaar, want ons het geen motor om dit te laai nie.

Die kaptein van die motorboot kom staan op sy dek, want hy besef sy anker is bo-oor ons s'n. Ek pols vir Archie om hom te vra om ons uit die baai te tou. Teensinnig vra Archie en die Turk, Mr. Mustafa, sê hy sal ons tou. Ons gooi vir hulle 'n tou tou en al die bote se mense in die baai skuif reg om die skouspel te sien. 

Hulle maak die tou aan hulle boot vas, begin te draai in die smal baai. Maja is willoos, sy volg nou waarheen sy gelei word. En so word die Suid-Afrikaners-, sonder enjin, deur die weldoener, veilig uit die baai getou. (Ek wonder of die skare gejuig het...). Mr. Mustafa sê hy sal oor twee, drie ure kyk of ons veilig is. Sy boot bly in die marina waarheen ons gaan.

Maja word uitgesleep na die ope see

Toe moet ons seil. Gus waai nie sterk nie, so tussen sewe tot elf knope direk van agter. Dit is eintlik 'n baie ligte wind, veral as dit van agter waai. Ek was nog nooit so gretig om seile te span nie. Ons span die hoofseil en die genoa. Ons seilspoed wissel  tussen twee tot vier knope. Ons seil meer as drie ure aan 10 myl.

Onder vol seil
Twintig minute van die marina roep Archie die marina op die radio en verduidelik die situasie. Die marina sal ons moet kom tou, want as die seil af is, dobber ons, het ons geen beheer nie. Ons hoor iemand anders ook oor die radio praat. Dit was Mr. Mustafa wat gehoor het ons roep en toe die saak in Turks aan die marina verduidelik.

Die marinamanne kom toe in hul dingy en help ons om "alongside" vas te maak langs die swemkaai. Die kaai lê propvol bruin lywe van die "rich and famous" van Çeşme-Altinyunus. Hulle verkyk hulle aan die opwindende kykgenot wat ons gratis aan hulle lewer.

Maja teenaan die swemkaai (volgende oggend)

Die fenders is almal te hoog vir die lae kaai en ek maak dit inderhaas met bewende hande langer. Archie gooi toue en die marinamanne stoot Maja met die dingy in die regte rigting. Twee jong seuns vang die toue op die kaai en maak onhandig vas. Toe is ons darem veilig.

Mr. Mustafa daag daar op en gee vir ons nommers van helpers. Die marina vrou het 'n werktuigkundige gebel en toe hy opdaag en sien hoe vas die enjin is, toe klik hy sy tong en neem net foto's. Hulle kan ons nie help nie. Ons word môre getou na Çeşme, waar ons twee dae gelede was.

Die aand verander die swemkaai in 'n restaurant met drie kunstenaars wat sing. Ons eet ons eie kos op Maja se dek en roofluister na die musiek.

Vasgemeer op die restaurant se voorstoep (volgende oggend)