Wednesday, August 5, 2015

Schionousa Eiland. Myrsini.



4 Augustus 2015. Dinsdag.

St Georgios tot Myrsini via Koufonisia


Alle goeie dinge kom tot ’n einde. Ons het vir vyf nagte hier by St Georgois gebly. Nou is dit tyd om te gaan. Ons groet ons ou dorpie wat so bekend aan ons geraak het en pak ’n nuwe eiland aan. Vreeslike snaakse naam, Koufonisia Eiland. Dis ’n mooiweerseiland. Die windvoorspelling sê die weer is mooi en daar gaan ons.

Die deinings van voor is groot, maar Gus is stil. Dis net so 8 myl tot daar. Ek staar so in die niet en ek verbeel my doer voor sien ek wit branders of perdjies. Maar hoe dan nou? Poiseidon het gesê ligte wind! Hoe later en nader, hoe kwater. Gus staan uit volle bors uit sy slaapplek op en hy waai dat dit klap. Maja vaar dapper voort, wind-op. Ons kom nader aan die vissershawe, maar die ingang is so klein, Archie wil nie in die sterk wind daar invaar nie.

Toe is dit volgende baai toe, die kaai is vol en ons anker. Die boek sê dis ankerplek vir kalm weer. Die anker byt pragtig en nog voor Archie kan toets of dit gebyt het, toets Gus dit sommer en hy staan stokstyf. Maar my mintag, Gus waai. Die volgende oomblik kom ’n ekskursieboot op ons afgepyl en as ek Grieks kon verstaan, is ek seker hy het ons gevloek. Ons staan kwansuis in sy pad waar hy wil vaar. Hy beduie en skree dat ons moet padgee. Wel, toe het ons genoeg gehad. Gus waai tot 29 knope en dit in die baai. Ons trek die anker op en laat spaander. Gelukkig is Schionousa Eiland nie vêr nie en Gus waai van agter. Die deinings is reuse.

Koufonisia


Ons kom by Myrsini se hawe, maar dis vol. Hier is dit lekker windstil en pragtig. Ons gaan na die baai langsaan en gooi anker. Dit is ook ’n baai vir kalm weer en die weer is kalm. Die anker sleep en ek trek op. Ek het iets hier beet, want ek sukkel daarom op te kry. Ek roep vir Archie, want hy is goed daarin om goeters op te kry. Hy trek ’n tou-ketting van ’n ou vasmeerblok op. Donner, maar ek het ’n kuns om goed raak te gooi as ons anker! Wel, ons gooi weer en is suksesvol. Vas is ons.

Myrsini Hawe


Ons gaan dorp toe. Soos wat ons loop, tap die sweet ons af. Snaakse dorpie die. Die meeste strate loop dood. Daar is ’n ou windmeule en kerkie. Oral is studio’s te huur. Dis kamers vir vakansiegangers. 

Kerkie en windmeule


Ons kry ’n uitsig oor die baai en die seewater roep na ons warm lywe en ons stap terug, klim in Dinkie en roei terug. En ons is in daai water. Hemel op aarde. Kan dit waar wees dat dit hier so heerlik is en daar anderkant waai die wind fors 7?!


Myrsini Baai
Irakleia- en Ios Eiland in die verte
Die aand kom


Hier is ’n klomp jagte in die baai. Die aand kom en dit word nag. En toe kom Gus soos ’n dief in die nag. Nie so sterk nie, maar onthou, dit is ’n kalmweersbaai die. Ons waai tot ná aan die buurboot en Archie trek 10 m ketting in. Dit was so 03:15. Toe is dit nagwaak. Ons anker alarm wys dat ons anker reg is, maar ek sit op die dek en hou die bootsituasie dop. ’n Ander seiljag se anker kom los en hulle moet in die donker weer anker gooi. My hart bloei vir hulle. Dis nie lekker nie, ek weet! 

Ou Archie maak vir ons ’n baie vroeë môre koffie. Dit word lig en Gus en Archie gaan lê. Ek sluimer ook op die dek in. Ons anker het gehou. Archie het gou vanoggend gaan ondersoek instel. Ons anker is perfek, maar die bure het ’n baie kort ankerketting uit, daarom het ons te na aan hulle gewaai. Ons het baie meer ketting op die bodem en swaai dus verder. Ons gaan vandag nog hier bly. Vrydag vat ons die pad na Ios, want dan is die wind reg. Môre is nie ’n goeie dag om te gaan nie, so ons moet nog ’n plek vir môre soek.

“Chris en Zane, ons doen al hierdie dinge vir julle!” En ons doen dit met liefde, want ons sien baie uit na julle koms!

Irakleia Eiland. St Georgios. Vat jou goed en trek.



2 en 3 Augustus 2015. Sondag en Maandag. 

So sit ek toe nog langbeen op Maja se dek en hier kom die hawe polisieman. Hy sê hy soek die kaptein. Ek roep toe ewe liefies die kaptein. En daar sê hy vir Archie hy wil hê ons moet skuif. Nogal “alongside “ ’n vissersboot. Daar kom blykbaar ’n groot boot wat gaan vasmeer. Ons het nie kinders op die boot nie, so ons kan maklik skuif, sê die polisieman. Ek hoor toe by my buurvrou dat hy het eerste die motorboot gevra, maar hulle wou nie. My moer strip. Ek bedoel, ons het een aand op anker in die hawe geslaap om vir ’n plek te wag. Ons het reeds vir drie aande se verblyf betaal. En nou moet ons skuif. Maja is nie eers in die pad nie. Die blerrie motorboot is.

Ek gaan vra die polisieman en hy het lang stories. Hy sê dis ons keuse. Goeie ou Archie sê ons sal maar skuif. Toe trek ons die anker op en trek alongside van die vissersboot in. Weg is my fliekkyk van die tieners en al die aksie. Ses-uur kom die groot boot in. Dis maar net ’n gullet en hy meer vas waar hy niemand pla nie. ’n Ander seilboot kom trek toe ewe langs die kaai in waar ons gestaan het. En ek sien daai polisieman. Vra hom toe hoekom ons eintlik moes skuif. Ek vertel hom sy fortuin en hy kry so skaam, want hy was totaal verkeerd in sy skuifbesluit. Hy sê toe later : “Excuse”.

Ons bly toe maar langs die visserman en dis lekker stil in die deel van die hawe. Geen rimpel of deining nie. 

Ali, ons buurman die visserman


Toe wil almal skielik langs ons kom alongside. Eers die motorboot wat daar wag vir ’n vasmeerplek. Ek sit nog so en hier kom ’n seiljag regop ons af en voor ons weet wat ons tref, het ons baie naby bure. Hulle kom toe gelukkig net hulle bemanning oplaai wat met die veerboot kom en ’n uur later is hulle fort.

Die volgende dag sê die visserman daar kom ’n seiljag langs ons vasmeer. Net na twee is hulle daar. ’n 56 voet boot met nege mense op. Hulle moet oor ons boot loop om voet aan wal te sit. En weg is ons privaatheid. Hulle kom en gaan die hele dag. En ek sê vir Archie dis alles die onnosel hawe polisieman se skuld. Ek skuif nie sommer weer as iemand ons vra nie.

Waar is Maja ....?
... daar is Maja!