29 Mei 2017. Maandag.
![]() |
Keçi Bükü tot Kuyulu Bükü |
Ag wat, ons hou lui-lekker vakansie. Vandag is dit
weer net ’n entjie se vaar na Kuyulu Bükü, 3.8 myl. Dis baie mooi in die körfezi en Chrismari sit dekoratief
op Maja se snoet.
Chrismari |
Ons
gaan eers swartwater by Marti Marina uitpomp. Seilende Sigeuners? Nee, eerder Stinkende Sigeuners. Van seil is daar nie sprake nie én ons kort dringend 'n stort. Alles verloop vlot en ons begin
die nuwe tog. Na ’n uur vaar ons die baai in en ons is die enigste jag. Die
baai is net ons s’n en ek gooi daai anker dat hy byt. ’n Boot is nooit vry nie,
sy is altyd geanker aan die grond. Sy is die marionet van haar kaptein. Maja
aanvaar haar lot en swaai haar stertjie liggies soos wat Gus haar swaai en
draai en waai.
Kuyulu Bükü |
Hulle
voorspel reën en die lug is oortrokke, swanger met vog. Êrens is daar
donderweer weer en ’n veraf gerammel is hoorbaar. Teen 16:00 gaan ons land toe
en die skepping lyk so vars, asof dit nou net geskape is. Die kleure is helder
en die berge in die verte donker. Heeltyd reën dit elders. Ons stap te heerlik.
Sowat
van mooi het ons lanklaas gesien. Alles lyk perfek. Maja eensaam, dog tevrede
in die baai. Drie mense in visuele ekstase oor dit wat aan hulle gebied word.
Mooi, mooier, mooiste. Wat meer kan ek sê?
Tevrede |
Dit
reën nie meer elders nie, maar hier by ons. Die nat dring ons neusgate binne en
ons adem dit in. In die verte verskyn die reënboog. Ons gee nie om vir die effe
nat nie en klim in Dinkie en ry in die nat terug na Maja.
Reën |
Hoe
wispelturig is die körfezi nie. Die son skyn en ons swem. Vir my is dit die
lekkerste swem van die seisoen.
Archie
kook manti en ons eet dit saam met 'n heerlike tamatie pesto en Nandos peri-peri sous.