Monday, October 1, 2018

Borjomi. Vardzia toer.

30 September 2018. Sondag.

Ons gaan vandag op 'n toer na Vardzia. Ons is twee bussies met ses toeriste in elke bussie. Ons hoop maar net dié bestuurders ry veiliger as die jaagduiwel van Juta. Nadat hulle inderhaas 'n bestuurder vir ons bus moes kry (ek dink ons bestuurder lê seker dronk),  vertrek ons omtrent 'n halfuur later. Maar nou ja, daar trek ons.

 Die nuwe bestuurder sit die ruitveërs aan as hy wil draai!  Hy ken nie hierdie kar nie. Hier in Georgië, ry hulle aan die regterkant van die pad, maar ons bussie het 'n  regterkant stuur. So, die bestuurder sit nie in  die middel van die pad nie, hy sit regs. Hy sukkel om te sien of daar verkeer van voor af kom. Dan moet hy links swenk om te sien. Soms voor aankomende verkeer in. In ons bussie is twee Suid-Afrikaners, twee Russe en twee Israelies. Die bestuurder is 'n Rus.

In die platteland naby Borjomi, kom jy op 'n klooster af. Dit is die Groen Klooster. Die rede vir die naam is dat dit as't ware in die paradys geleë is, in pragtige woude. Die klooster kom uit die 9de tot 10de eeu en is opgedra en toegewy aan St George.
Groen Klooster
Die spoor van 'n harde verlede met baie aanvalle is duidelik te sien. Daar is bloedbevlekte klippe in die nabygeleë stroompie. Dit het gebeur in die 16de eeu,, toe die monnike van die klooster wreed vermoor is en hulle in die  rivier gegooi is. Soos die mense sê, tyd en water het nie die krag en mag gehad om die bloed van die monnike af te was nie.
Bloedbevlekte klippe
Ons stop by seintorings wat in die 11de eeu gebou is. In daardie tyd het hulle gekommunikeer met rookseine. 
Seintorings
Lomsia Kasteel by Akhaltsikhe is in die 9de eeu gestig. Guaram Mampall, die seun van Ashot Curapalat was die stigter. 
Lomsia Kasteel
Uitsig van die Trouhuis
Vier torings
Ekke
Mure
Toe word ons honger en ons stop by 'n eetplek tussen niks en nêrens. Archie bestel daai kaasding en ek vark. Die bestuurder van die ander bus (ek noem hom sommer Gogga), kry 'n bottel wyn as 'n geskenk by die eetplek en hy drink 'n sopie saam met almal. Sy laggende gesig is ene tande en die wangetjies is rosig pienk. Sy boeppensie wat onder die hemp uitloer, dril van die genoeglike gelag. Hy hou veral van die twee Poolse vroutjies wat in sy bus ry en is nie suinig met drukkies uitdeel nie. Na 'n gesellige ete ry ons verder. 
Die Pole en Gogga
Gogga en die Russe (Lizzie regs)
Archie
Gogga en ek
Die Khertvisi Fort is groot en indrukwekkend. Dit is in 'n uitstekende toestand en het behoort tot die 10de tot 14de eeu. Dit word beskerm deur 'n baie hoë krans van aan die een kant. Drinkwater is gekry deur 'n tonnel van die noord-weste kant. 
Khertvisi Fort
Khertvisi Fort
Landskap
Toe is Varzdia aan die beurt. Russie ry skoon die meer mis, jaag verby, so ons sien nie die meer nie. Ons het teen hierdie tyd die ander bussie verloor en ons ry toe maar Vardzia toe. 

Vardzia is 'n grot-stad. Koning Giorgi 111 het die fort in die 12de eeu gebou en sy dogter, koningin Tamar, het 'n grot-klooster gestig wat gegroei het tot 'n heilige stad wat omtrent 2000 monnike gehuisves het. Dit het dertien vloere, 400 kamers, 13 kerke en 25 wynkelders. En hulle nog steeds nuwes!
Vardzia Klooster
Vardzia
Vardzia
Een van die kamers
Uitsig oor die vallei
Die hart van die klooster, is die "Church of the Assumption".  Daar is nog frescoes te sien wat uit 1184 tot 2186 kom. In die kerk is 'n tonnel waar jy vir 150 m in die berg kan loop. Meestal gebukkend op op op en dan met ondergrondse trappe af af af. Dan kom jy skielik weer uit die berg en kan die son weer sien. Dis 'n ongelooflike ervaring om binne-in die aarde te loop.
Ek en Russe by kerk
Fresco
In die tonnel
Ons almal wag toe vir ons bussies. Maar van bussies is daar geen spoor nie. Ons wag maar. Dié toer is regtig nie goed georganiseer nie. Nadat hulle omtrent twintig minute laat is, kom Gogga daar aangery. En daai pof wangetjies is toe éérs pienk. En daai man is vrolik hoor! Ek sê net dankie tog hy is nie ons bestuurder nie.

Ons bussie is nog steeds skoonveld. Later kom hy daar aangery. Kan nie sê of hy ook gedrink het nie. Hy was baie meer spraaksaam, maar ek kon niks ruik nie. Archie sit voor, ek en die Russiese meisies in die tweede ry en die Jode agter. Ek sien die  Russiese meisies maak sitplekgordels vas. Toe ek op 'n stadium my gordel wil kry, sien ek die Jode is ook stewig vas. Hemel, maar was dit 'n benoude rit!

Langs my sit Lizzie. Ek noem haar so, want sy lag heeltyd, baie koketterig, soos 'n regte bakvissie vir al die bestuurder se staaltjies. Sy het hoeka al die heeldag met al wat broekdraer geflankeer. Sy is behoorlik belustig.

Archie word toe mede-bestuurder. Hy sit mos nou links voor in die bussie. Hy kan baie beter sien. Kyk, hierdie manne van Georgië skroom nie om verby te steek nie. Hulle ken nie van stadig ry nie. Russie swenk links, dan kyk Archie of dit veilig is, dan skree hy:"Go go go!" Dan "go" daai Rus. Ek bid net ons kom veilig tuis, want dis toe al lankal donker.

So kom ons al jaagende (Russie), al giggelende (Lizzie), al biddende (ek en die Jode) en al "go go go-ende" (Archie) veilig by die bushalte. Van die ander bus is daar geen spoor nie.

Wat 'n ondervinding. Die nagmerrierit, maar ook die ongelooflike kastele, forte en kloosters. Hierdie Georgië se mense bestuur soos hulle gatte, maar dis 'n baie mooi en interessante land.