Na 'n mistroostige, grou-grys dag en 'n wiegende anker nag, is ons reg vir die nuwe dag.
Archie moet eers die Bushy-braai se grid uit die see duik. Die grid het tydens die wiegbraai in die see geval, toe Archie dit in die see gedruk het om af te koel. Die grid het uit sy hand geval.
Ja, jy verstaan nie verkeerd nie, hulle het gebraai terwyl ons op anker lê. En ons hét gewieg.
Jy moes dit gesien het.
Dit het na 'n Mr. Bean-toneel gelyk, erger as die Kersfees kalkoen. Eers pomp Archie vir Dinkie op, sit duikbril en snorkel aan, en soek reg rondom Maja om te kyk waar die grid is - gat in die lug en gesig in die water. Bushy staan op die boot en soek. Uiteindelik sien hulle waar die grid op die bodem lê - in 6 meter diep water.
Hulle maak een punt van 'n tou aan 'n swaar pan en aan die ander punt 'n plastiese bottel vas. So merk hulle die plek waar die grid is. Onthou, as jy geanker lê en die wind waai, draai Maja heeltyd geduldig in die rondte.
Archie probeer die grid uitduik maar dit is te diep en hy soek vir iets swaarder sodat hy homself vinniger kan aftrek. Hulle besluit die spaar anker is net die regte ding.
Mr Bean! |
Archie roei terug om die tweede anker te kry. Hulle laai dit met moeite op Dinkie. Terug na die toneel. Laat sak die anker. Besef hy het nie die duikbril of boothaak saamgebring nie. Maar nou is Dinkie geanker met die spaar anker. Wat nou? Bushy gooi die boothaak. Archie vang raak. Daarna die snorkel en bril. Dit beland in die water en... dit sink. Archie gryp die boothaak om die snorkel te gryp. Dit gly uit sy hand en val in die water en... dit sink. Arch gryp, maar te laat. Nou is die grid, snorkel, bril, boothaak en spaar anker op die bodem van die see.
Mr Bean! |
Nou is dit ernstige sake. Die boothaak! Bushy gee nog 'n snorkel en bril. Met longe vol lug, is dit onder toe. Hy duik en bly lank onder. Skielik pop hy soos 'n kurkprop uit die water, met die grid triomfantelik bokant sy kop. Ek skep moed.
Hy duik weer met longe vol lug en kom die keer op met die snorkel en bril EN die boothaak.
Ek slaak 'n sug van verligting.
Daarna trek hy die pan op en toe die anker.
Alles is gered en die manne voel soos helde (en hulle is!)
Ons seil heerlik. Die wind is van agter en dis 'n heerlike, sonskyn dag.
Ons seil |
Ligtoring oppad na Trogir |
Trogir is in sig |
Hy seil ook |
Ons kom vroeg by Trogir en geniet die dorp. Ek en Grietjie het dobber-oë. Ons probeer die juwele in die stalletjies raaksien, maar dit wieg so dat ons niks raaksien of koop nie. Die mans lag al die pad bank toe.
Trogir se Riva |
Kasteel by Trogir |