Friday, April 28, 2017

Kemer - Gereed maak




25 – 27 April 2017. Dinsdag - Donderdag


Ons ontwaak en Kemer is so mooi soos altyd. Die bergreuse troon waaksaam oor die marina en fluister-roep my steeds. Archie gaan koop melk en daar is niks soos ’n koppie kapteins-boeretroos nie.

Mooi Kemer

Toe begin die groot werk. Maja moet weer in seilende orde kom. Die kaptein is in sy element. Die “furler” ding word gediens. Die seewater-verkoelingspype word vervang. Die katrolle word ge-olie. Die genoa word opgetrek. Al die toue word teruggesit. Die toiletklep word skoongemaak, gegries en teruggesit. Dit is net werk werk werk. 

Maja en haar vriendinne "on the hard"
"Furler" word gediens
Vervang verkoelingspype
Fenders word uitgehang

Ek stofsuig al wat ’n kussing, duvet en matras. Maja word gewas en beddens word opgemaak. Die silwerware word gepoets. In die proses steek ’n ding my in die sagte vleis van my ringvinger en die bloed spat asof ek in die Tweede Wêreldoorlog verwond
is. Toe gaan lê ek so ’n bietjie. 

Poets silwer
Alles word gestofsuig

Intussen moet Maja terug water toe. Ons kry alles reg en die geel voertuig ry met Maja weg en sy word na die blou masjienreus vervoer. Die bande word onder haar vasgemaak. Die verwer verf gou die plekkies op haar pens waar die stelte was het en sy is gereed vir die water. Ons motor kan nog nie loop nie en hulle stoot en trek haar na ons vasmeerplek. Ek is nie op Maja nie en neem foto’s van die gedoente.

Archie en die span
Blou reus
Water toe
Daar gaat sy

Veilig en vas is ons aan die kaai. Die plank is so steil af en ek mik-mik eers voor ek daar afloop. Ek het mos nuwe knieë en is nog bietjie wankelrig.

Annemarie en Brian van Krugersdorp is ook hier in Kemer en nooi ons om saam met hulle en Prov, ’n Amerikaner, te gaan eet. Dit was heerlik. 

Mehmet en Annemarie
Ek en Archie
Brian en Prov
Ons gaan maak 'n draai en drink 'n paar raki's op Prov se boot "Sail, be happy".  

Şerefe!

En so, asof niks verander het nie, gaan die lewe aan en die sewe maande wat ons by die huis in Suid-Afrika was, voel soos ’n oomblik in die verlede.

 

Weg is ons, al weer.



23 April 2017. Sondag.

Dit gaan woes in ons huis. Die familie is oral en ons word behoorlik koebaai gesê. Na ’n hewige onsuksesvolle soektog na my nuwe bril, vertrek ons effe laat en opgestres na die lughawe. Dis mos tradisie wat ons nie kan verbreek nie en ons met ons bagasie, ry knus saam met Gerrie en Ansu lughawe toe. Op pad na die lughawe ontdek ek my bril wat ewe aspris in my rugsakkie se ritssakkie ingeval het. Wat ’n vreugde en my liggaam raak sommer slap van die ontspan.

Gerrie en Ansu

Archie en ek

Vir oulaas ’n tradisionele koppie koffie op die lughawe en na die tradisionele vreeslike gewuif van my en Gerrie en Ansu (Archie wuif nie eintlik nie), begin ons reis vir 2017 op ’n vreeslike tradisionele manier. My familie hou van tradisie.

Wat ’n lang en uitgerekte vlug. Ons vertrek Sondag, 23 April, 21:35 uit ORT en kom eers Dinsdag, 25 April, 01:55 donkernag by Maja aan. Dit was vlugte van OT na Kaïro en toe na Athene, daarna Instanbul en uiteindelik na Antalya. Toe met ’n bussie na Kemer.  O maggies, maar ons was moeg. Daardie trappies wat ek moes klim om op Maja te kom, was so styl, ek was bevrees my splinternuwe knieë sou dit nie kon baasraak nie. Maar bo is ons, sluit oop en gaan slaap op ’n onopgemaakte bed.