Sunday, August 31, 2014

Turkye. 'n Dag in Ayvalik.

30 Augustus 2014.  Saterdag.

Die wind waai nog en nog en nog ...

Vandag vat ons die veerboot na Ayvalik, 'n dorp in die hoofland. Ons klim die 13:00-boot en daar trek ons. Ayvalik is aan die oorkant van die baai. Die deinings in die baai is nog groot, maar kleiner as gister.

Veerboot na Ayvalik
Ayvalik

Ayvalik is 'n werksdorp met 'n geheim. Dit lyk soos 'n gewone vissersdorpie met 'n waterfront en restaurante, maar as jy in die agterstrate rondwandel, kry jy 'n verrassing. Waar is Elize nou?!

Jy kom op 'n Griekse dorpie af met oorvloed atmosfeer. Motors skuur in nou, klip straatjies by jou verby. Daar is perdekarre en inwoners wat dag-tot-dag take verrig. Ou Griekse huise is orals.

In die strate
Bouvallig
Ou fabriek

Die Ottoman Grieke het in Ayvalik gewoon. In die 1920's is hulle gedwing om hulle geboorteland te verlaat en is na Lesvos, 'n Griekse eiland naby verskuif, terwyl die Turke van Lesvos, verskuif is na Ayvalik. Die stempel van die Grieke is oral afgedruk. Daar is grootskaalse olyfolie produksie, Grieks-Ortodose kerke (sommige is verander na moskees) en van die ouer inwoners kan nog steeds Grieks praat.

Skoenmaker
Bakkers
Lewer gebak af

Oral in  Ayvalik restoureer hulle van die ou huise en geboue. Ons stap net rond en beleef en ervaar ou Griekeland.

Ou huis ...
... wat hulle restoureer

Ons eet die smaaklikste middagete, sulke Turkse boerekos. 

Meze -  Eiervrug met bees, beesstifado, groenbone, rys-gevulde skorsieblomme

Laatmiddag klim ons die veerboot terug na Alibey. Wat 'n verrasende en interessante belewenis!

Totsiens Ayvalik

Turkye. Alibey.

29 Augustus 2014.  Vrydag.

Çamlik Köyü tot Alibey (Geel en rooi lyn)

Een ding is seker - die Meltemi blaas volle fors uit volle bors.

Die hele nag kry ons wind, met die vreeslike vlae wind van die berg af. Gelukkig hou die anker baie goed, want die bodem is modder. Ons wil vandag by Alibey (39°19.991 N, 26°39.346 O), 3.3 myl, 'n klein dorpie, gaan anker, miskien is dit beter daar. Daar is ook 'n hawe, maar die boek sê dis meestal vol. 

Ons vertrek 11:00 uit die beskutte baai en vaar wind-op na Ailbey. Tóé besef ons eers hoe beskut die baai was. Daar het ons sterk wind gehad met hewige windvlae, hier is die wind hewig met hewiger windvlae in ons gesig. Die groot golwe rol in en dit is ín die baai van Ayvalik.
Ons beur ons weg deur die wind en golwe en wonder of ons nie 'n fout gemaak het nie.

Oom Olifant

By Alibey is die see kalmer (no fetch), maar ons vaar eers by die hawe in. En daar is sowaar plek, 'n vriendelike ou oomie van die see op die kaai wink vir ons. Nou moet ons in die vreeslike wind vasmeer.

Alibey

Ek gooi die anker, Archie tru, die wind waai ons van koers af. Archie vaar weer vorentoe en probeer tru. Hy kry rigting en tru. Ek laat die anker verder uit. Die oomie vang die tou en begin vasmaak. Die wind druk en stoot, maar die anker het lekker gebyt en ons is vas.

Dit voel darem baie kalmer hier as in die beskutte baai van Çamlik Köyü en op die see. Die wind kom nog met vlae, maar dis nie so hewig nie. Hier gaan ons nou skuil tot die wind gaan lê.

Alibey is eintlik 'n eiland, wat met Ayvalik  (hoofland) verbind is met 'n brug. Daar is baie ou steenhuise in Griekse styl. Soos in Ayvalik, is die eertydse Grieke wat hier gewoon het, in die vroeë 1920's omgeruil met Moslems wat in Creta en Lesvos gewoon het.

Uitsig oor hawe
Kerk en windmeul op heuwel
Ou Griekse huis
Ou Griekse huis

In 1944 was hier ook 'n aardbewing wat die geboue en kerke beskadig het. Oral is die inwoners besig om die dorpie weer op te knap.

Skade van aardbewing

Dit voel of ons weer in Griekeland is. Ons loop in die straatjies en stegies rond. Die wind waai, maar ons skuil te lekker.

Waterfront

Vanaand slaap ons weer hier.