11 tot 15 April 2022. Maandag tot Sondag
Hier by ons op Skopelos gebeur op die stadium nie juis veel nie. Ons wag om die prokureur 27 April te sien. Ons kon nie die afspraak vervroeg het nie.
Die wind het vreeslik gewaai. Die see het soos Wildernis in Wes-Kaap se strand gelyk. Vreeslik koud gewees. Mus en serp weer.Tot Archie het 'n langbroek gedra en nie sy tradisionele Maja-broekie nie.
Ons stap rond in Skopelos op soek na meubels, want Sue, die eienaar, gaan omtrent alles vat. Dis omtrent 'n ding en 'n half om meubels te voet te soek. Eintlik jok ek nou, want hier is net een meubelwinkel waarvan ons weet. Tassos, wat soos 'n seerower lyk, is baie behulpsaam (en ook baie duur). Sy meubels is van baie goeie gehalte en word in Thessaloniki gemaak. Die sitkamerstel en ook die eetkamerstel steel toe daar en dan my hart. Kos 'n arm en 'n been en ons kan nie eers van pap en wors leef om geld te spaar nie, want hier is pap (polenta) peperduur en wors word "sausage" genoem.
Ons koop ons eerste vis van die seisoen en dié seedier verander in 'n heerlike feesmaal. Saam met pan aartappels smaak dit vorentoe, altyd vorentoe.
Ons loop vir Dominique en Christine (Skopelos Scramblers) raak en hulle nooi ons na hul huis. Toe ons die volgende dag hulle huis soek, vind ons dit nie en loop toe maar in die landelike deel van Skopelos rond. Dis pragtig.
So gaan die dae een vir een verby. Ons gaan elke dag supermark toe en die kassier ken ons al. Maak 'n draai by die kwekery wat 'n miernes van bedrywigheid is. Lente is in die lug en almal koop plantjies vir hul potte. En ek sien 'n magdom potte en plante wat ons moet koop. Sue gaan ook 'n klomp van haar kleiner potplante saamvat. Sy is nie soos hulle in daai ou halleluja liedjie sing nie, wat sê:"Moet ek gaan met leë hande ...", nee, sy gaan met armsvol! (Genade, maar my woorde speel parte met my denke en my logika is seker maan toe!)
Ons wag vir die prokureur en Maja wag vir ons.
Hier op die eiland is dit die ene doenigheid. Want sien, almal kry hulle tavernas en winkels reg vir die seisoen se toeriste. Dit verf en verf en verf nog. Die mure word geverf. Stoele en tafels ook. Alles wat lyk of dit 'n verfkwas nodig het, loop deur. Hulle skrop en polish omtrent soos wat ons altyd aan die begin van die seisoen op Maja doen.
Hulle hoop op vragte toeriste wat daagliks die hawe binnevaar op reuse veerbote. Mense is uitgehonger om 'n normale bestaan te voer. Die lewensaar van die eilande is toeriste met vet beursies, wat lus is vir spandeer..
Archie se skootrekenaar se "Windows" het hul uitsig verloor. Toe is dit winkel toe dat die een of ander slim nerd dit kan regmaak. Dit is omtrent 'n ding om mens se lewensuitkyk in nuwe vensters te installeer. Langsame proses en ure se geduld.
Saterdagaand is die eerste keer dat die kaai lewe. Die musiek speel feestelik en kom oor die baai aangedreun. Onthou, ons verblyf kyk uit op die dorp. Mense lag en gesels. Stadig maar seker begin die seisoen.
Vandag is dit 'n mistroostige nat dag hier op Skopelos. Grys en grou is dit nou en weg is die blou dis grys en grou.