Tuesday, July 8, 2014

Syros Eiland. Ermoupolis.

7 Julie 3014. Maandag.

Loutron tot Ermoupolis

Dit is amptelik! Ek hou nie van groot see en wind nie. Dit verswaar my gemoed. Ek dien vandag weer my vonnis uit - langpad van 31.6 myl op die Aegean See, na Ermoupolis op Syros Eiland (37° 26.597 N, 24° 56.619 O).

Ons trek vroeg weg, 06:15. Meltemi het my eetlus weggeraap, so ek dink ek gaan nou rietskraal word. Voor ons vertrek, wurg ek 'n eetlepel muesli en 'n teelepel jogurt af.

Goue see

Ons verlaat die beskutting van die hawe, groot see toe. Ek dink ek het versagtende omstandighede gekry, (sekerlik nié vir goeie gedrag nie), want die see is kalm en Meltemi waai net lui-lekker.

Die kaptein beveel: "Span die seile!" Elize en Annette raak nou regtig goed. Ek skuif agter die helm in, Archie gaan hoofseil toe en die vrouens beman hul toue. Hulle trek hier en los daar en laat die boom uit en trek die genoa uit en siedaar! Ons seil!

As Meltemi net daaraan dink om aan ons te ruk, beveel ek altyd en dadelik aan dat ons reef. My leuse is: "Reef terwyl jy kan en vroegtydig, want spyt kom te laat." Ek glo glad nie aan : "Van skande en skade word jy wys" nie. Nee, reef en daar is geen skade nie.

Suidpunt van Syros

Dit raak 'n besondere goeie seildag. Alles gaan goed en maklik. Die ergste stuk was die laaste twee myl na die hawe waar die deining ons toe goed skommel.

Naby Ermoupolis
Ingang tot hawe

Ons meer vas by die dorpskaai. Maar is die hele hawe-kaai swak beplan! Die swelling van die veerbote slaan teen die kaai vas en bons terug. Ons arme jagte wat hier vasgemeer is, skommel soos op die oop see as hier 'n veerboot kom. Om oor die plank aan wal te loop, is 'n missie. Jy hoop en bid jy val nie in.

Die dorp is baie mooi en ons gaan ry op die treintjie deur die dorp. Dis 'n trein met wiele wat op die pad ry. Griekse musiek word luid op die spreker gespeel en die omstanders wieg ritmies saam as die trein verby ry. Die feestelikheid van die trein lig my swaar gemoed.

Ons ry die trein ... 
... ons ry die trein ...
... Ermoupolis se trein

Die nag slaap ons almal wieg-wieg in ons beddens.

Kythnos Eiland. Loutron.

6 Julie 2014. Sondag.

Vourkari tot Loutron

Elke dag is langpad. Dit klink amper soos tronkstraf. "Vir diefstal word jy tien jaar hardepad gevonnis". Ek word ook nou gevonnis. "Vir al jou oortredings word jy, vir elke dag 'n langpad op die rowwe Aegean see  gevonnis."

Ons trek weg na Loutron, op Kythnos Eiland (37° 26.575 N, 24° 25.586 O), 20.5 myl, 5 ure se langpad. Ons vaar om die bo-punt van Kea Eiland. Meltemi waai in ons gesig. Om die draai kry ons die wind van agter en ons seil vir 2h30 min. Later word die deinings groter en groter.

Amper daar
Annette geniet die rowwe see
Elize, gepanser teen Meltemi

Net toe ek wil moedeloos raak, is ons by die hawe. 'n Uiters bekwame hawemeester dui die plek aan, met vreeslike duidelike instruksies: "More right, drop anchor, more left, stop Captain, up anchor, fix rope, good anchor." So laat hy die een jag na die ander veilig in die baai vasmeer. Almal is dankbare bemanningslede na 'n rowwe dag op see.

Vissershawe

Dis 'n baie klein dorpie, maar pragtig en verwelkomend. 'n Rusplek vir my vermoeide, windvernielde siel.

Ons gaan stap boontoe om 'n uitsig oor Loutron te kry.

Wit huise, barre berge
Uitsig oor Loutron

Ons geniet ons verblyf in die juweel.