6 Junie 2014. Vrydag.
 |
Syvota tot Efemia via Fiskardo |
Syvota was heerlik. Stil nag na die gewaai van Gus. Ons gaan vandag na Fiskardo op Kefalonia Eiland. Ons was verlede jaar ook daar en dit vreeslik geniet. Leon en Dirk sal baie van die plek hou. Dis nie ver nie, net 10 myl.
Leon en Dirk gaan koop eers gou weer tiropita en ons eet sommer op die sypaadjie, want ons wil nie vir Maja bekrummel nie.
 |
Smul aan tiropita (kaaspastei) |
Ons vertrek 09:15 en ons vaar uit die baai. Die wind is van voor, maar kaptein besluit om te seil en op gaan die seile. Die manne is heel handig met daai seile.
 |
Oggendskoot - Rimpel dimpel diamant |
Ons "tack" 'n paar keer. Dit is as jy van rigting verander as jy wind-op seil. Archie sê: "It is not that at all" en toe gee hy vir my 'n vreeslike Engelse verduideliking wat dit is. Google dit maar gerus.
 |
Seil |
Ons trek die seile in, want die wind waai reg van voor. Daar heers 'n speelse stemming op Maja.
 |
Leon en ek. |
Ons vaar nog so rustig, toe gee ek 'n gil wat al drie manne laat verstar.
Ek het gehoor hoe verander Maja se stemtoon, dis 'n toonhoogte laer. Sy vaar stadiger en toe glad nie meer nie. Toe vaar sy weer en toe gaan staan sy. Al verdomp weer dobberende, met Fiskardo winkend daar voor. Ons span gou die hoofseil om die bietjie wind te gebruik om rigting te hou en Archie en Dirk gaan ondertoe, engin toe.
Eerste ding wat hulle doen, is om seker te maak dat die noodafsluitklep wel oop is (sien blog van 19 Mei) maar alles blyk in orde te wees. Toe begin hulle die probleem soek. Dirk is Archie se regterhand daar onder by die engin.
 |
Archie en sy regtehand |
Intussen seil ek en Leon voort. Ek agter die helm en Leon verstel die seile en toue wanneer nodig. Gus is aspris en dreig om te gaan lê, juis wanneer ek hom nodig het. Sonder hom kan ek nie vir Maja stuur nie en dan kom ons te na aan die land, wat 'n jag se grootste vyand is.
Ek het heeltyd probeer om haar so te stuur dat sy in die middel van die twee eilande seil. Ek het al my seilkennis wat ek in Durban by die kursus geleer het, toegepas. Moenie dink die herstelproses was vinnig nie. Dit het 'n ewigheid en 'n dag geduur. Kort-kort kry ek opdrag: "Sluit aan" , "Weer Marietjie", "Sluit af". En ons seil al verder weg van Fiskardo.
Na 'n lang probleemoplossingsproses, wat die primêre- en sekondêre brandstoffilters, die brandstofpomp en die brandstofinspuiters ingesluit het, is die noodafsluitklep die sondebok, dieselfde blêrrie ding wat ons die vorige keer ook in die verknorsing laat beland het.
Dit was totaal geblok. "The offending part was bypassed and the problem was solved". Die brandstof vloei weer, en met die volgende "sluit aan" gebeur die wonderwerk, die manne behaal sukses. Maja kan dit inteug en sy het weer vonk in haar proppe (figuurlik gesproke).
 |
"Mr Fix-it" |
Ons draai net daar in ons spore om en vat die pad terug na Fiskardo. Ons is almal baie verlig. Nou kan ons vasmeer en ontspan. Dit word laat.
Ons kom by Fiskardo ingevaar. Die plek lyk vir ons heel anders. Vir 'n oomblik wonder ons of dit wel Fiskardo is.
 |
Fiskardo |
Wat 'n teleurstelling! Die drywende kaai waarteen ons verlede jaar vasgemeer het, is skoonveld. Daar is enkele vasmeerplekke, maar dis reeds beset. Nou is anker in die baai ons voorland met 'n "long line ashore". Gus waai woedend, dwars met vlae wat alle vlae laat wapper dat hulle klap. Ek staan gereed by die anker, terwyl Gus alle opdragte wat Archie vir my skree, weg waai. Dirk staan gereed om land toe te swem en Leon is gereed om te keer.
Ek gooi, maar Gus gooi ons dwars, te naby aan die seiljag aan ons port kant. Dirk swem so wat hy kan en maak die tou vas. Ons is steeds te na aan die bure. Die tou word vinnig losgemaak voor ons die ander boot tref, ek trek anker op en Archie motor vinnig na 'n veilige afstand van die bure. En ons swemmer is op die land.
Die bure ry met hulle dinghy na Dirk toe, laai hom en die tou op en wag vir ons om weer anker te gooi. Archie kry posisie, ek staan gereed en gooi. Dirk-hulle bring die tou en ons maak vas. Dirk neem die ander tou land toe en maak vas.
 |
Dirk die swemmer |
Maja staan te skeef en hulle trek die landtou met die katrol (winch) in. Sake lyk reg maar 'n rukkie later besef ons dat ons stadig nader aan die land beweeg. Die anker het losgekom!
Archie sluit die motor aan, want die buurboot kom gevaarlik nader. Dirk swem om die toue los te maak en Leon staan reg om te keer, want Gus waai ons nog steeds bure toe. Toe Dirk en die toue aan boord is, trek ek die anker heeltemal op en ons vaar stert tussen die bene daar weg, met Gus wat in ons nekke waai.
Nou soek ons 'n ander heenkome, dis al 16:00 en dit word laat. Ons vaar nou weer tussen die twee eilande en soek ankerplek wat genoeg skuiling bied teen Gus wat al hoe sterker waai. Geen ankerplek slaag die toets nie en ons voorland is Efemia.
 |
Aandskoot - Son sak in die weste |
Die boek sê Gus waai sterk hier van die berg af. Ons dink dis die waarheid, want oral op die berge is windturbines. En Gus ruk en Gus pluk. Ek is benoud en ek sien Archie is ook. Hoe de duiwel gaan ons hier vasmeer!?
 |
Windturbines - Hier móét wind wees |
Ek roep op die radio en die vasmeerman sê hy sal plek aanwys. Hy staan op die kaai en wys die plek aan, ek gooi en Archie tru en Gus waai. Dit gaan egter goed en ons maak vas met Gus wat nog steeds ruk en pluk en huil en loei.
Ons verdien "cold beverages". Ons is op!
Ons het 28.6 myl geseil en gebobber en gevaar. Na 'n lang dag van 8h30min kan ons weer asemhaal, doodmoeg geadrenalien.
Wat 'n dag!