4 Julie 2014. Vrydag.
Gelukkige Onafhanklikheidsdag vir ons VSA-lesers.
![]() |
Sounio Baai tot Vourkari |
Die nag was taamlik windstil, totdat 'n windvlaag my 03:20 wakker raas en ek daarna nie weer kon slaap nie. Ek doen toe maar nagwaak. Gus waai verwoed. Die anker hou. 05:30 is almal wakker en op, tot Elize. Ons drink toe maar kapteinskoffie.
Weer eens die groot vraag - vaar ons of bly ons? Die wind die waai en die see lyk groot. Hóé groot, sou ons nog uitvind.
Archie sê ons vaar en ek wonder in my enigheid of hy van sy sinne beroof is. Onseker of ons die regte ding doen (want my anker het so goed gebyt), trek ek dit op.
Ons vertrek 08:00. Gus se naam is nou die Meltemi. Dis 'n wind wat sonder moegword net altyd waai. Hy klits die see op tot rollende massas water wat net tol en rol en rol ...
Ons vaar na Vourkari (37° 39.948 N, 24° 19.484 O), 16.7 myl, op Kea Eiland. Meltemi waai en die see is groot. Archie vat die helm vas en pak deining vir deining aan.
Die area tussen Cape Sounio, waar ons was, en Makronissis- en Kea Eiland, waarheen ons oppad is, word die Cavo Doro genoem. Verskillende seestrome en winde wat vanuit verskillende rigtings waai, veroorsaak dat dié seestraat as een van die moeilikstes in die Meditereense See is om te kruis en word blykbaar as 'n moerse prestasie in die seilersgemeenskap beskou. Die boek sê: "There are two seas to torment us on the journey." En dan is daar nog die wind wat tot 34 knope waai.
Niks lekker nie |
En daardie twee seë het ons beproef. Groot deinings wat vir Maja na 'n spikkel laat lyk, Archie wat die helm nie vir 'n oomblik kan los nie. Ek en Annette vat ook die helm vas vir 'n wyle.
Archie en Annette |
Water spoel oor Maja se snoet en tref ons kolskoot in die gesig. Ek en Elize gaan lees die kaart by die kapteinstafel, maar dit skud en skommel so daar onder, dit is seesiek se dinge. Wat toe ook met Elize gebeur. Sy skiet haar katjie ewe netjies in 'n plastiese sak en hou dit vas totdat ons, na wat soos 'n ewigheid voel, die kalmte van ons baai bereik. Toe gooi sy die katjie oorboord.
Elize en haar katjie |
Vir my was dit niks lekker nie en ek dink Maja het dit ook nie geniet nie. Sy en haar motor het heeltyd wind-op voortgesukkel op die "cross sea".
Hoe heerlik was die kalmte van die baai! Archie was moeg van al die konsentrasie. Al wat ons kon sê was: "Welgedaan Kaptein, jy het ons veilig daardeur gekry!"
Vourkari Baai |
Ons slaap die nag veilig vasgemeer teen die dorpskaai.