30 Mei 2019. Donderdag.
 |
Alimia Baai tot Potamus Baai |
Gus het ons in die nag met 'n paar hewige windvlae gepeper, maar die Fallers slaap deur.
Ons
het vandag 'n kort dag, so ons is nie haastig nie. Die kaptein verras
ons met heerlike pannekoek en ons smul behoorlik. Veral Paddy kan nie
wag nie, want as getroue blogleser dra hy eerstehandse teoretiese kennis
van Archie se gebak en nou gaan hy dit in die praktyk beproef.
 |
Kaptein bak pannekoek |
 |
Smul |
Op
die strand waar ons gister so lekker gestap het, lê goed wat soos
hooibale lyk. Soms beweeg die hooibaal effens. Ons bekyk die spulletjie
so en wonder wat dit is. En jou wrintie, dis skape. Die arme goed se
pote is vasgemaak. Ek is seker hulle is verdoof. Later kom 'n visserman
met sy vissersboot en drie manne laai die skape. Omtrent twintig stuk
word opgelaai in die boot. Mens kan amper nie eers sien dat daar skape in
die boot is nie. Toe vaar die visserman en nog 'n ander man daar
weg met die vasgebinde, verdoofde skape. Seker na Khalki toe. Hopenlik
na ander weivelde en nie na 'n slagpale nie. Eerste keer wat ons so iets
sien.
 |
Hooibaal skape |
 |
Vervoer skape |
Toe trek ons anker
op en vertrek na Khalki, 7.1 myl. Paddy is agter die helm en Archie
neem oor toe ons naby die mooi dorpie kom. Archie vaar verby en die
mini-Symi is kleurvol en pragtig.
 |
Paddy en Archie |
 |
Khalki |
 |
Khalki kaai |
Ons
ankerplek is net om die hoek en ons gooi anker wat behoorlik byt.
Hierdie baai se water is so mooi. Kristalhelder. Paddy gaan kyk of die
anker gebyt en bevestig ons vermoede, ons is vas.
 |
Bar moeder |
 |
Potamus Baai |
 |
Potamus strand |
Toe
gaan ons dorp toe. Ons gaan mos altyd dorp toe. Die vrinne roei en ek
en queen Victoria sit agter. Ons stap oor die bult en Khalki lê voor
ons. Dis pragtig. Ek is mos 'n kerkmens en pyl dadelik op die kerk af.
Soos gewoonlik is dit gesluit. Ons stap die dorpie plat. MJ koop geskenkies vir haar kleinkinders.op
 |
Dorp toe |
 |
Archie en MJ |
 |
Op die kaai |
Ons word honger en eet 'n gyro met souvlaki. Te heerlik. Nie die lekkerste wat ons al geëet het nie, maar steeds lekker.
 |
Eet gyros |
 |
Kyk daardie kuite |
My
hart hunker na die windmeulens bo-op die bult. Die ander is nie eintlik
lus vir die stap nie, maar ons stap maar. Ons sien toe vir Khalki van
bo af. Dit lyk pragtig. Ek sal sommer hier 'n huisie koop en hier kom
bly. Archie klim die trappe in die windmeul en loer deur die venster.
 |
In die windmeul |
 |
Khalki |
Ons stap terug,
sommer so deur die rommel stortingsterrein. Ons tel 'n piering op en
neem dit saam huis toe. Ook nog 'n blom vir die gaste. Ons laaste
besienswaardigheid is twee kerkies.
Hierdie ou dorpie het ons behoorlik geniet.
Die son sak indrukwekkend oor ons winderige baai. Môre het ons 'n moeilike pad na Tilos met wind reg op Maja se neus.
 |
Son sak |