Monday, May 4, 2015

Weer Kazikli Baai



4 Mei 2015.

Ons bly in ons baai, maar skuif na ’n ander inham, want Archie se agterstewe jeuk mos altyd. Anker op en ons vaar ’n halwe seemyl na ons nuwe blyplek, wat pragtig is. Ons gooi daai anker soos ’n paartjie op wittebrood, ewe lieftallig. Ons samewerking is prysingswaardig, die mense wat al saam met ons geseil het, weet hoe kan ons stry.

Nuwe blyplek


Ons sit weer voet aan wal en stap deur ander olyfbome na Kaptan Han se restaurant. 


Staptog
Kazikli Baai


Hulle het amper niks op die spyskaart nie, want dis buite seisoen. Archie drink ’n bier en ek vars uitgedrukte lemoensap, vesels en al. Ons deel een porsie geroosterde groente wat baie smaaklik is. Die restaurant het atmosfeer, al is dit nog nie eers aand nie. Daar lê honde en katte rond, hulle ruik en snuffel aan ons. Tot die kat klim by ons op die stoel.


Kaptan Han se restaurant
Kaptan Han se restaurant


Ons stap terug en die baai word versier met ’n draaiende Maja. Die wind waai, maar ons is veilig en beskut.


"Sundowners"


Kazikli Baai.



3 Mei 2015. 

Talianaki tot Kazikli Baai

Vandag vaar ons verder in die Güllük Körfesi. Ons moet steeds beskut wees teen Gus wat vanmiddag en vanaand gaan waai. Ons keuse val op Kazikli 37°20.246 N, 27°28.496 O, ’n baie beskutte baai. Dis ’n kort dag van net 11 myl.

Ons trek anker op en laat spaander. Gus (die wind) lê nog en ons motor die hele pad, te rustig vir woorde. Ons kyk na dit wat aan ons sigsintuig uitgedeel is om te waardeer en ons geniet die sien terdeë. Die see gly-gly sag en soepel by ons verby. Maja vaar statig met haar kameelperd-grasie in die golf. Ek en my kaptein sit tevrede en in harmonie op die dek. Die kaptein natuurlik op sy nuwe kussing.

Oggendskoot
Windpatrone


Niks opwindend gebeur nie (waaroor ek baie bly is). Ons vaar verby Paradys Baai waar ons verlede jaar saam met Gerrie en Ansu geanker het. 

Paradys Baai


Ons motor by Kazikli Baai in. Dit word omring deur bergerige heuwels. Dis mooi hier.

Ons gooi anker, sonder stry. Daai anker trek stokstyf, soos my pa se visstok as ’n ou grote byt. Ons is reg vir enige wind.

Dinkie se lyfie word vir die eerste keer die seisoen natgemaak toe ons land toe gaan. Ons stap bult op en bult af. Langs die pad gooi die bome plek-plek vir ons ’n kolletjie skadu. Dis warm. Ons kyk hoe ’n trok ’n wavrag vol vis oplaai. Ons kyk na die olyfplaas en oorweeg om dit te koop. Ons lag oor die lawwe gedagte. Dinkie neem ons terug na die wagtende Maja. Ons roei dat dit klap wind-op.

Kazikli Baai
Olyfplaas te koop
Maja in Kazikli Baai
Maja


Maja is hier tussen ’n klomp werksbote. Hulle ry heen en weer tussen die visplase in die golf en die baai, waar hulle “hoofkantoor” is. Dis glad nie steurend nie, dis lewe. As hulle verby vaar en ons sit op die dek, is dit net wuiwende hande en breë glimlagte. Dan waai ons vriendelik terug. Later word die dagskof verruil vir die nagskof. Bote vol manne kom terug van ’n dag se harde werk op die visplaas en nuwe vars manne word aangery vir hulle nagtaak. Daai visse is vreeslike vrate, want hulle vreet heeldag, as ek kyk na die hoeveelheid van sakke kos wat deur die bote opgelaai en weggery word na die plaas.

Werksboot op pad na visplaas


Die dag verander in aand sonder dat ons dit eintlik opmerk. Ons geniet ons aandete op die dek. Dis eergister se vars skaap (“overshoot”, soos Michelle sou sê).

Dis volmaan vanaand en dit strooi silwer rimpel dimpel diamante op die water.

Volmaan