18 September 2019. Woensdag.
Na baie
moeilike navorsing, want die inligting op internet verskil met die
werklike tye hier in Roemenië, en drie keer se stap na twee verskillende
outogari, het ons 'n bus wat ons vanoggend 7:00 na Viseul de Sus kan
neem. Ons wil die Mocănița stoomtrein klim.
Viseul
de Sus is so 50km van Sighetu Marmatiei. Dit gee ons 2h30min om daar te
kom. Ons stoomtrein kaartjies is bespreek en betaal vir 9:30. Die
busrit is pragtig, so tussen al die klein dorpies deur. Dis baie groen en
weereens bos en berg.
Die
bussie stop gedurig om passasiers op en af te laai. Meestal ou ooms en
tannies, almal met 'n "plestiek" sak in die hand. Die tyd stap aan en
die spoedbeperking in die dorpies is 40km/h.
Ons
is vol moed dat ons betyds gaan wees, totdat die bestuurder toe 'n
ander ompad ry. Toe begin die tyd te loop en hy ry stadig, want hy klets
te heerlik met 'n passasier voor langs ons. Ek kan
behoorlik eiers kook!
Die GPS op die selfoon sê later dis nog 35 min tot daar en dit is al 09:00!
Ons gaan dit nooit maak nie. Dan moet ons nog stasie toe stap.
Ek
kan dit toe nie meer hou nie en sê vir die bestuurder, wat nie Engels
kan praat nie: "Go go go! Go fast!" Archie sê: "Train, 9:30". Hulle almal
weet van die Mocănița stoomtrein. Toe jaag hy behoorlik. Die
medepassasiers hou ook duim vas. 9:15 laai hy ons af en die bordjie sê Mocănița Train, 1km.
Hoe
de moer gaan ons betyds daar kom. Ons begin teen 'n spoed te stap. Met
my knieë is hoë spoed nie my sterk punt nie. Archie is toe op 'n drafstap
vooruit om die trein te stop en ek kom flink agterna. Presies 9:30 kom
ek uitasem daar aan. Die trein beweeg stadig vorentoe!
Ek
skrik my kuduks. Gelukkig is die lokomotief toe net besig om te
rangeer. Ek stap trein toe en soek vir Archie. Hy roep my, met die
kaartjies in die hand. Ons is uitasem, maar gaan sit dankbaar op ons
plekke. (Wil net noem dat 'n man ons met 'n privaat motor wou bring, dan
moes hy heeldag vir ons wag en dit sou ons €150 gekos. Dit is R2300.00.
Hulle het gesê daar is nie busse soontoe nie).
Ek en Archie gaan stap 'n ent boontoe. Ek sê mos ons beland altyd in die bos. Ons kyk af en sien die trein doer onder. Almal geniet hul middagete. Oral sit mense tussen niks en nêrens by tafels en eet.
Sommige gaan rivier toe. Musiek speel oor luidsprekers. Later begin
mense in 'n kring te dans. Ek val ook toe met die tweede rondte in.
 |
Van bo gesien |
 |
Middagete |
 |
Volksdanse |
 |
Staan gereed om te trek |
 |
Ons loko vervaardig in 1955 |
Archie
het op internet gesien daar is 17:20 'n bus terug. Nou of dit regtig so
is, weet ons nie. Die internet en die werklikheid verskil mos hier in Roemenië. Dis altyd raai raai riepa! En die tyd loop! Ons
het drie ure gery tot die middagete plek. Nou is dit al 14:30! Gaan ons
daai bus haal? Ons moet nog 1.8 km van die stasie na die busstop toe
stap. Gelukkig stop die trein net eenkeer. Almal klim af asof ons die
wêreldse tyd het. Hulle klim weer op en ons ry verder.
Presies
16:30 trek ons by die stasie in. Ons klim af en begin te stap. Ons gaan
dit maak! Weet nie eintlik waar om die bus te kry nie. En dis te sê as
die bus ooit gaan kom.
Ons
vra rond en 'n meisie sê toe daar is 'n bus 17:20 en ons is op die
regte plek. Ons moet net daar staan. En wraggies die bus kom, ons klim
en ry verlig terug huis toe. Sowat van bus-stres en spanning het ons
lanklaas beleef.
Wat 'n suksesvolle heerlike dag, met 'n skootjie stres ook by. En wie moet ons bedank? Vir Archie en al sy volgehoue navorsing!