Archie bak pannekoek vir ontbyt! En dit reën nie eers nie. Nee, moenie my verkeerd verstaan nie, ek kla nie, ek sê net. Wat 'n aanwins vir 'n man is hy nie. Hy meet beslag af, gooi in, draai om en natuurlik is die eerste een 'n flop. Ons eet dit daar en dan op. (Ek dink hy het dit aspris gedoen). Ek strooi die suiker en kaneel oor en kort voor lank sit ons aan. Ons smul aan die soet en dink aan huis.
 |
Pannekoek vir my kinders |
Vandag gaan ons daardie eeue-oue mure van Kotor aandurf. Die boek sê dis vir die energieke toeris, want dis 280m op boontoe. Wel, dan is dit natuurlik vir ons bedoel! Waar kan jy nou meer energiek as 'n pensioenaris kry? En ek wil die mure van vergange se dae trap vir trap uitklim. En ons voel baie sterk na die pannekoek.
Ek trek my stapstewels aan en gewapen met my stapstok is ek reg vir die geklim. Archie kom nes hy is, want hy is altyd reg vir alles.
Ons koop ons kaartjies by die vrou op die stoel, €3 per persoon en toe is die mure ons s'n. Ek verplaas my terug na die 9de eeu, toe hulle begin het om die mure te bou, maar dis so lank terug, ek kan nie tot daar dink nie.
 |
Gewapen met stapstewels en stapstok |
Trap vir trap kry ons hoogte en daarmee saam pragtige uitsigte oor die baai. Ons sien vir Maja daar onder in die baai. Sy word al kleiner en kleiner. Dis warm, al is dit bewolk, en ons begin liggies te sweet.
 |
Maja word kleiner en kleiner |
Die
stari grad lyk anders van bo af. Dit lyk soos 'n lappieskombers met verskillende skakerings van rooi en oranje.
Die mure neem ons na die klein ou kerkie. Wie sal nou in die ou tyd na die kerkie toe gegaan het?
 |
Halfpad-boontoe-kerkie (1518 NC) |
Die St John's Kasteel staan sterk en trots heel bo. Dis nog 'n hele entjie tot daar.
 |
St John's staan trots daarbo |
Ons sweet ook nie meer net liggies nie! Van onder tot bo is dit 1350 trappe. Ek het nie self getel nie, want as ek so moet tel, kan ek nie kyk en beleef nie. Die boek sê so.
Ons kom nader en nader aan die kasteel. Langs die pad sit manne wat water en bier uit hul koelbokse uit verkoop, dis nou vir die swetende dorstiges.
 |
Mure om ons |
 |
Ons |
...1349, nog net een trappie, dan is ons bo! 1350 en ons is bo! Die muur, forte en kasteel is so gebou dat jy die vyand van alle kante af kan sien aankom. Die
stari grad lê ver en veilig daar onder.
 |
Lappieskombers |
Ons kyk bo rond en begin die aftog blaas. Dis warm en ons stap af en af en af. Maja lyk ook nie meer so klein nie en die lappieskombers, verander weer trap na trap na ou huise. Voor ons ons weer kon kry, is ons binne-in die ou stad.
 |
Terug na ou stad |
 |
Terug na ou stad |
Die aand, 19:00, gaan ek weer kerk toe en verstaan nog steeds nie 'n dooie woord nie.
Om 21:00 het ons 'n Skype-afspraak met my broer, Gerrie, en sy gesin. Ons internet is maar power, maar ons gaan sit op die dek waar dit die beste is. Na 'n klomp "missed calls" kom Gerrie deur. Ons praat met half-gehoorde sinne en verwronge beelde en sonder beelde, maar ons praat en ons praat hard. Maar ons gee nie om nie, want ek praat met my familie!!