Saturday, May 28, 2016

Vasilikos Baai. Megalo Petali Eiland.



27 Mei 2016. Vrydag. 

Porto Rafti tot Vasiliokos Baai

"Kaptein, kan ek langer bly asseblief?” Maar nee, ons moet gaan, weg van die heerlike kalmte van Porto Rafti. Storie van ons lewe, trek anker op en weg is ons. Op reis êrens heen, na wie weet waar. Swerf ons, al seilende, swerf ons.

Ons lewensroete gaan vandag na Vasilikos Baai, 37°58.944 N, 24°15.140 O, net 13.2 myl. Die water is ’n spieël. Lekker plat water, amper bewegingloos, net soos wat ek daarvan hou. Die vlag wapper nie, hy hang sommer pap. Maja prrr rustig voort, sorgeloos, sonder spanning.

Lekker plat water


Skielik verander Maja se enjin se toonhoogte. Ons albei frons. Dis ’n nuwe Volvo motor, daar kan tog nie fout wees!? Haar spoed verminder ook effens. Baie snaaks … . Ek sê vir Archie ek het groot plastieksakke op die water gesien dryf. Miskien het Maja een ingesluk.

Wel, gelukkig is ek nie die kaptein nie, want daar moet nou mos ondersoek ingestel word. En so kry Archie sy eerste geforseerde swem van die seisoen. Hy sit die snorkel op en verdwyn onder die water. Hy kom terug met die verslag – plastiese sak het om die propeller vasgehaak en om die as gevou. Gewapen met ’n mes verdwyn hy weer ondertoe. Met elke verdwyning sny hy ’n stuk van die sak los. Na ’n paar uitasem pogings is die propeller weer skoon. En hy geniet boon-op die swem. Sê die water is heerlik verfrissend.

Mr. Fix-it

Ons skakel vir Maja aan en daar trek ons weer. Archie is inderdaad Mr. Fix-it! Gus begin effens te waai en ons span die seile. Ons seil vir ’n halfuur en kom by Vasilikos aan. Die baai is oop suid. Ons gooi anker. Aan die ander kant van die eiland waai daar Noord-ooste winde en ligte deinings rol die baai binne.

Hierdie is eintlik Kaalbasbaai, want hier is drie bote en ek, ag ek bedoel ons, is die enigste mense wat klere aanhet. Ons gaan stap op die eiland en Maja lê soos gewoonlik sierlik in die baai. 

Die kaalbasters van Kaalbasbaai
Grotgat
Maak Dinkie vas
Vasilikos Baai
Uitsig oor Kaalbasbaai
Klippies vir Clarize

Die stap laat ons lekker warm kry en toe Archie sê ek moet saam kom swem, het ek klaar my kostuum aan. Die eerste swem van die seisoen is heerlik en verfrissend.

Eerste swem

Ons aandete. Vars vis.

Een dooie vis van Porto Rafti gerol in n bietjie gegeurde koekmeel.
Sny stert af as die vis te lank vir die pan is. 
Verhit bietjie olyfolie in 'n pan en braai die vis 7 minute aan elke kant.
Bedien saam met pangebraaide aartappels en slaai..
 
Dooie vis
Heerlike aandete

Die aand rol die een deining na die ander die baai binne. Net genoeg om Maja te laat rol van die kant tot daai kant. Haar sagte steun - en kreungeluide beroof my van my nagrus.

En die kaptein slaap soos ’n flippen baba!

Porto Rafti. Stilte na al die storms


26 Mei 2016. Donderdag.

Olympic Marina tot Porto Rafti

Gelukkig is al die stanchion se parte teen 12:00 reg en Archie is in sy element. Hy fluit terwyl hy werk en doen die herstelwerk, met my hulp natuurlik. Ek sit op die dek soos ’n wafferse handlanger, skroewedraaier in die hand en help deur die skroewe op die dek vas te draai en hy lê in ons slaapkamer met sy kop in die klerekassie om goeters daar vas te hou terwyl ek bo vasskroef. Toe staan daai paal weer penorent en ons vertrek teen 14:00 uit die Marina.

Vandag se bestemming is Porto Rafti, 37°52.941 N, 24°01.209 O en dis 13.7 myl tot daar. Dis windstil toe ons vertrek, maar op die see waai die wind van voor, gelukkig nie te sterk nie. Iewers het dit kwaai gewaai, want die see is redelik groot. Ek sug liggies. En dan is die kuslyn ook nie eers vir my mooi nie. Sementfabrieke ontsier die berge. Groot skepe vaar saam met ons. Maar nou ja, dis die pad na Skiathos, waarheen ons eintlik op pad is om ons Kanadese vriende, Yvon en Louise Desy te ontmoet.

Haarkapper?
… ons vaar die pad tesame …
Amper daar

Ons vaar by Porto Rafti in en ’n salige windstilte daal op ons neer. Dis soos hemel op aarde. Soos ’n poskaart in die posbus. Dis nou wat ek goeie skuiling noem. Ons soek ankerplek, gooi en vas is ons. Geen wind wat ons pla of terg nie. Ek is in die sewende hemel.

Ingang van die baai
Hemel op aarde

Gus het die afgelope tyd oral gewaai. Gumnuts het gaan vissop in Korfos eet en hulle het rukwinde tot 30 knope op anker in die baai gehad. Almal sê net: ”Terrible winds!”

Die dorp is eintlik ’n vakansie dorp met baie woonstelblokke, maar die baai en berge is mooi. Ons geniet dit terdeë. 

Porto Rafti
Hawetjie