1 en 2 Augustus 2017. Dinsdag en Woensdag.
Ja en hier is ons nog stééds op Karavos. Gus waai
seker 18 uit die 24 ure van die dag. Dit loei en loei hier op die kaai. Ons
anker hou, al waai Gus van voor af op Maja se snoet. Ons beskerm haar
agterstewe met twee groot balfenders, want as Gus baie sterk waai, waai hy ons
teen die kaai vas. Maar ons anker hou! Die boek sê dit is uitstekende houkrag.
 |
Karavos Kaai |
 |
Karavos |
 |
Karavos strand |
 |
Kragstasie |
Dis maar een van die dinge van die seilende
sigeuner se lewe. Soms raak jy vasgevang op ’n plek, dan moet jy maar die
storms uitwag. Dit is nie eintlik hier waar die groot probleem is nie. Dis
verder suid waarheen ons moet gaan. Ons fynkam elke dag die boek vir plekke wat
ons miskien misgekyk het, maar helaas. Die skuiling teen die wind is net nie
goed genoeg in die baaie nie. Gus hou ook nie op waai in die nag nie en die baaie
aan Evia Eiland se kant het baie sterk rukwinde. So, ons sal dit nie geniet
nie. Ons kan maar dan hier bly, want ons het die tyd. Michelle en Johan kom
eers 18 Augustus.
Archie sien 'n drywende wit ding in die water. Gus het sweerlik gister die padversperringsding in die water gewaai. En natuurlik ag Archie dit as sy plig om dit, soos Moses van ouds, uit die water te haal. Die ding is swaar en vol water. Hy en die boothoek bind n tou om die ding. Dit gly af en Archie sukkel. Maar trou aan sy aard, hou hy vol, totdat hy met 'n lang gesukkel die ding suksesvol uit die water haal. Hy stoot dit langs die kaai af en plaas dit netjies weer op sy plek. Bravo Archie!
 |
Kry tou om |
 |
Die groot trek |
 |
Die groot stoot |
 |
Terug op sy plek |
Ons stap al om die ander dag na Archie se
gunsteling winkel, die LiDL toe en koop voorrade vir Michelle en Johan se
kuier. Dis 1.4 km tot daar en die aankope moet in rugsakke gedra word. Daar kan
dan nie te veel swaar goed gekoop word nie, so dan gaan ons maar weer.
 |
Ons gunsteling winkel |
Elke dag loop ons ook verby die berugte vyeboom.
Die vriendelike vrou sit dan in die tuin en ons waai vir haar. Vandag het ons
haar in die straat raakgeloop en sy het in Grieks beduie dat ons maar vye kan
gaan pluk. Ek hou van die vrou.
 |
Berugte vyeboom |
 |
Vriendelike vyeboom-vrou |
Hierdie is die minder glansryke deel van seil. Iets
waarvan die kuiergaste glad nie deel is nie. Hulle sien altyd die mooi plekke
en ons het nog nooit nodig gehad om saam met hulle op ’n doodgewone plek soos
Karavos te skuil nie. Almal dink alles is net altyd maanskyn, rose en pragtig.
Hierdie is die regte lewe, wat ’n besliste deel van seilers se lewe is.