17 Mei 2014. Saterdag.
 |
Lefkas tot Vonitsa |
Alles kom tot 'n end, tot ons skuiling in Lefkas. Daar is 'n tyd om te kom en 'n tyd om te gaan. Ons vertrek 08:35 om betyds te wees as die brug
oopmaak.
 |
Lefkas Marina |
Ons gaan 09:00 deur die brug. Hulle het, soos Klara Viljee in die fliek, die sandduin (die een wat die see van die kanaalingang skei) verskuif, so die keer is niks "hair raising" nie, veral nie van die suidekant af nie.
 |
Foto van hoe die sandduin verskuif is |
 |
St Mavros Fort |
Voor ons, anderkant die see, kan ons al vir Preveza sien. Dis 9 myl tot daar. Ons plan is om by die dorpskaai vas te maak.
Die wolke in die lug is 'n visuele plesier, wat stadig maak seker verander na 'n grysheid en nog later na waterdruppels op ons lywe. Dit reën plek-
plek en soms hier en dan elders.
 |
Dreigende wolke |
Die son skyn by Preveza, maar ons besluit ons vaar verby en gaan die Golf van Amvrakikos binne en vaar tot by Vonitsa, waar ons wil anker. Langs die pad sien ons baie dolfyne, maar hulle swem en speel al te lekker in die verte. Ons wil hulle nader lok en speel op my mondfluitjie en fluit, maar puur verniet. Ons moet maar met die verte tevrede wees.
 |
Naby Vonitsa |
Ons kom by Ormos Ay Markou,'n baai naby Vonitsa waar ons wil anker. Die boek sê dit was lank gelede 'n mosselplaas, pasop vir ou mosselplaas-rommel. Ons passop toe maar vir die rommel, maar Maja se anker wil net die byt nie, nee sleep net agter haar aan. Ons gooi vyf keer sonder sukses anker, maar ons vermoed ons het 'n ander tipe anker nodig om in die fyn slymmosselmodder te anker.
 |
St Markou Baai |
 |
Vyf keer! Geen sukses nie. |
Toe gaan ons maar na Vonitsa se dorpskaai (38° 55.321 N, 20° 53.099 O), 'n hanetree van daar af. Eienaardige besigheid, die dorpskaai. Daar is vasmeertoue, maar die bote anker ook. Dit beteken dat daar sementblokke of kettings onder die water is, waaraan die vasmeertoue vasgemaak is. Dit beteken ook dat jou anker aan die blokke of kettings kan vashaak. Die meeste bote is vasgemeer én geanker!?
Na'n onderonsie tussen ek en die kaptein en 'n vrou wat woes op die kaai beduie, gooi ons anker en tru in die spasie. Ons maak ook met die vasmeertou vas, en bekommer ons oor die dag van môre.
Ons stap in die klein dorpie rond. Daar is ook 'n kasteel, maar dis altyd toe.
 |
Kaai en kasteel |
 |
In ewewig |
Dis grafstil in die nag. Nie 'n roering van Gus se kant af nie.