Wednesday, May 24, 2017

Catal Bükü.



24 Mei 2017. Woensdag.

Çiftlik tot Catal Bükü

Behalwe van Chrismari, wat ’n nagmerrie gehad het, het die res van ons heerlik geslaap. Die nagmerrie hou ook nie daar op nie. Toe sy haar wasgoed afhaal, val haar ondergoedjie in die see. Archie is skoon ontstig en wil dit uit die see uitvis, maar hy kry nie Fanie se hengelboks nie. Die Turkse buurman vang toe die ondergoedjie met sy handlyn. Nou hoef Chrismari nie meer kaalstert te loop nie. Haar pantie is gered.

Pantie visserman

Ons vertrek na Catal Bükü. Die boek sê dis ’n fjord tipe baai met kristalhelder water. Dit is 14 myl tot daar. Ons seil nie, want Gus waai liggies van voor.

Daar is geen skets of beskrywing van die plek nie en ons vaar maar versigtig in. Daar is net plek vir een jag in die baai en gelukkig is daar geen jag daar nie. Die baai is ons s’n. Toue word gereed gekry, ketting en als. Dis weer ’n anker met ’n landlyn. Alles verloop baie glad. Archie swem land toe, maar die tou is te kort en Archie se ek moet nog anker gaan uitlaat. Ek was besig om te tru, toe los ek die helm, hardloop anker toe, laat anker uit, hardloop agtertoe om weer te tru, want nou trek Maja vir Archie van die landaf die see-in. Toe tru ek met mening, die anker trek styf en ek weet nie wat alles nog nie, maar toe is ons vas en ek uitasem.

Maak gereed

Maar die mooigeid van die baai vergoed daarvoor. Archie is toe so koud van al die geswem, dat hy nie ’n koue drankie wil hê nie, maar warm koffie. Wat die kaptein toe ook kry.

Ons gaan land toe en stap ’n ent en die baai lyk pragtig. Maja is stewig vasgemaak, sy kan nêrens gaan nie. Die water is uitlokkend blou en kristalhelder. Ai, maar dis mooi hier in ons eie baai!

Land toe
Bult op
Catal Bükü
Chrismari
Ek
Windverwaaid

Çiftlik.


23 Mei 2017. Dinsdag.

Joya Del Mar Marina tot Çiftlik

Dis vanoggend Chrismari se nooiensvaart op Maja. Ons gaan vir oulaas dorp toe met die dolmus. Ons ry so gereeld op die bussie dat die bestuurder ons al ken. Na die aankope maak ons gereed vir die vetrek en verlaat Joya Del Mar. Ek het vreeslik baie van die plek gehou. Ons vaar na Netsel Marina toe waar ons diesel gaan ingooi en swartwater gaan uitpomp. Op pad na die marina keer die hawepolisie ons voor. Hulle wil die bootpapiere sien en ook weet wie aan boord is. O maggies! Till en Andree is nog op ons lys en Chrismari is nog nie op nie. Ons word aangeraai om dadelik ons sake in orde te kry.


Chrismari se nooiensvaart

Ons gooi diesel in, pomp swartwater uit en toe gaan anker ons maar in Marmaris se baai en die kaptein vat vir Dinkie en jaag land toe, kry die hawemeester gelukkig maklik en kry ons sake in orde. Toe is Chrismari nie meer ’n onwettige immigrant nie en ons vat die pad na Ciftlik, 14.9 myl.

Soos gewoonlik waai die manne op die kaai soos windmeulens en oudergewoonte gaan ons na Mehmet se plek toe. Ons maak vir Maja vas en siedaar. Dis tyd vir “cold beverages”. Chrismari is dadelik op haar pos en skink.

Die plek is vir my nog net so mooi soos altyd. Die berge is hoog, die water helder en die pier is baie verbeter, glad nie meer so wankelrig nie. Ek voel skoon tuis.

Mehmet's Place
By die kaai
Çiftlik Baai
 
Die aand gaan eet ons uit by die restaurant en Chrismari  bestel ’n groentedis en ek en Archie eet swaardvis (wat eintlik nie so lekker was nie). Die diens is uitstekend en hulle koer behoorlik rondom ons om seker te maak dat alles aan tafel seepglad verloop.

Archie, ek en Chrismari
Swaardvis
Groentekasserol
 
Ons is om een of ander rede is ons baie moeg en gaan klim in die vere en Crismari het ’n vreeslike nagmerrie. Haar kar word gesteel en nog ’n paar rampe tref haar. Sy word wakker en gelukkig is niks van die droom waar nie.