12 Julie 2016. Dinsdag.
![]() |
St Georgiou tot Port Augusta |
Ons fenders is pikswart van die ou bande teen die kaai. Die Turk van die seiljag voor ons, maak van Maja se toue los en ons vertrek na Port Augusta, 37°27.406 N, 26°58.014 O, 18.1 myl op Arkoi (Arki) eiland.
Gus waai en ek is nou moeg vir wind.
Ek verlang na windstil dae met spieëlgladde rimpellose blink gladde water, met
Maja se motor wat ritmies voortdreun en soos musiek in my ore klink.
Maar dis net wensdenkery en ons span
die seile. Ek sug liggies. Gus klim in my oë en dit traan, hy waai my hare in
my oë en dit traan nog meer. Gus maak die deinings groot en ons wieg heen en
weer. Gus versondig my siel, kneus en skaaf dit en ek sê vir die kaptein ek wil
asseblief ’n windstil dag hê. Hy sê net hy het geen beheer oor die wind nie. Ek
sug nie meer so liggies nie.
Ek verlang na al die bekende mense
by die huis. En na Deon en Ryna.
Ons kom by Port Augusta, maar daar
is nie plek by die kaai nie. Ons vaar na die Port Stretto, die baai net
langsaan. Die bodem lyk nie goed nie en ons soek ’n plek wat lyk of daar
bietjie sand ook is en nie net seegras nie en ek gooi anker. Gus waai ons hot
en haar en die anker byt nie. Ek trek twee keer ’n hele tuin op. Byt is
verniet.
Ons gaan na die ander deel van Port
Stretto toe en daar is ’n boei heel voor oop. Ons weet dit word vlak en bekruip
die boei stadig. Daar is reeds drie ander seiljagte aan boeie vasgemaak en die
een man skree vir ons die voorste boei het net ’n diepte van 1.4 m. Maja se
diepte is 1.65 m. Ons draai om. Ek sug kliphard.
Die twee baaie van Port Stretto |
Die kaptein sê ons moet maar weer Port Augusta probeer. Miskien het iemand intussen vertrek. Ons vaar in en sowaar, daar is ’n plek. Archie kry die regte posisie, tru in, ek gooi anker, die manne op die kaai gryp die toue en ons het ’n heenkome vir die aand.
Vas teen die kaai |
Die klein eiland lyk soos die barre Namibië en die Richtersveld en het net so veertig permanente inwoners. Kerkmens wat ek is, stap ons boontoe, op op op na die kerk. Oral is klipmure, want dit is bok wêreld hierdie.
Pad na kerk |
Kerkie bo-op die heuwel |
Van bo af kan ons die netwerk van klein eilande baie mooi sien. Port Stretto en Augusta lê vreedsaam as veilige hawe vir seiljagte daar onder. Die uitsigte en die kerk bo heel my gekneusde gekwetste siel.
Uitsig oor Port Augusta |
Port Augusta kaai |
Uitsig |
Die pad loop langs die klipmuur, ’n pad van heelmaak en regmaak. ’n Simbool van mooigeid in die barheid, salf vir die siel. Arki steel my hart.
Langs die klipmuur |
Arki steel my hart |