24 Augustus 2016. Dinsdag.
![]() |
Marmaris tot Ekinçik |
My jongste seun, Gerrit, verjaar vandag. Baie geluk
hoor!
En weg is ons na Ekinçik, 36°49.782 N,
28°33.106 O, 20.1 myl. Marmaris is stil en stemmig vanoggend. Gus lê en die see
is stil. Ons vaar uit die baai.
Die Turkse kuslyn is
baie mooi. Ek sien dit elke dag as ons vaar. Dis groots en mens kan dit nie op
film vaslê nie. Ons vaar en vaar en vaar.
Rotse |
Ons sien ’n reuse ou skilpad en net as ek ’n foto wil neem, duik hy ewe aspris onder die water in en verdwyn vir ’n wyle. Dan steek hy sy groot kop weer by ’n ander plek bokant die water uit. Te dierbaar! Hier is ook sulke seeplante wat in die see ronddryf. Dis seker seelelies. Ons vaar en vaar en vaar.
Waar is Skillie? |
Seelelie |
Ekinçik is die plek waar jy jou seiljag los as jy die Dalyanrivier wil gaan doen. Dan huur jy ’n rivierboot en die kaptein neem jou op die ekskursie. Ons het dit verlede jaar saam met Dirk en Leon gedoen. Dit was baie spesiaal en nogal duur. Hierdie jaar gaan ons net hier anker.
Naby Ekinçik |
Ekinçik Baai |
Die baai is oop vir die suide en ek maak my klaar vir ’n wiegelied. Al waai die wind nie sterk hier nie, hy waai in die see en ons kry die deinings. Dit is maar stil hier. Verlede jaar was hier ’n klomp bote wat die volgende dag Dalyan wou doen. Ons is nou net twee bote op anker en geen bote by die kaai nie.
Buitelandse toeriste
is nie meer so volop hier in Turkye soos verlede jaar nie. Selfs Marmaris was
dolleeg.
Een van die restaurante
het ’n sanger wat daar sing en ons sit al wiegend op Maja en luister. Van die
liedjies is baie mooi.
Dit word deesdae vroeër
donker. Die slaap ontwyk my vanaand. Maja se gewieg en die harde musiek beroof
my van droomland.