24 Junie 2017. Saterdag.
![]() |
Tsonia tot Molyvos |
Archie staan vroeg op en sê hy gaan koffie maak. Hy
sê dis baie mooi buite. Ek wat geen oggendmens is nie, besluit om ook op te dek
te sit en koffie drink.
Son verkleur die water met sy verfkwas. Skakerings
van rooi, pienk en goud. Son wys nog nie sy gesig nie, stuur net eers die
belofte van die nuwe dag na die aarde toe uit. Ons gryp die belofte en maak dit
ons eie.
Skakerings |
Archie hoor weer die asemhaling en jou waarlik,
dis dolfyne! Hulle swem rustig, seker besig met ’n vroeë ontbyt. Ons sien net
die vinne en soms die soelsagte lywe. Wonderlik, om so op die dek te sit en die
werklike lewe speel op jou voorstoep af. Oral spring visse en vissies maak
klein kringetjies in die water. Daar was sweerlik gisteraand dolfyne wat rondom
Maja geswem het!
Die son maak haar verskyning en dit is ’n nuwe dag.
Met kapteinskoffie in die hand en onder ’n donssagte kombersie, so midde-in die
natuur, is dit so na aan saligheid en hemel op aarde as wat jy kan kry! Al wat ’n
skaduwee daaroor gooi, is die wete van die twee 50 myl kruisings wat in die
nabye toekoms lê.
Nuwe dag |
Tsonia |
Ons maak klaar vir die kort dag van 12 myl na Molyvos. Gus waai baie lekker en lig van agter af. Vandag sou ’n heerlike dag gewees het om na Limnos (50 myl) toe te kruis. Ek en Archie het verskillende idees oor die kruisings. Ek wil op ’n windstil dag kruis en dan heeltyd motor, sonder enige stress. Hy wil natuurlik kruis as die wind waai, want kan hy seil. Wind beteken ’n groter see, waarvan ek nie hou nie.
Sommer gou is ons by Molyvos en ons vaar die hawe
binne. Daar is niemand om ons te help nie. Archie tru, ek gooi die anker en
Archie vaar kaai toe. Toe ons by die kaai kom, hardloop ek helm toe en Archie
klouter op die kaai (dis ’n hoë kaai). Hy sit die een tou om die bollard en
gooi dit terug vir my en ek maak die tou vas. Nou word die ander agtertou vir Archie
op die kaai gegooi en dis dieselfde prosedure en ons is vas aan die kaai.
Molyvos Hawe (Maja tweeede van regs) |
Molyvos Hawe |
Molyvos dorpie en kasteel |
Dis baie warm en ons gaan eers wag totdat dit koeler is, voordat ons die toeriste juweel gaan besoek. Ons het al vergeet hoe warm dit in Griekeland kan word.
Al die straatjies wat na die kasteel toe opgaan,
is bedek met Bloureën (dis ’n rankplant met trosse blou blomme). Dit gooi
welkome skadu en ons geniet die stap in die koelte. Ek ondersteun die
gemeenskap deur ’n paar geskenke te koop.
Straatjie |
Die
Belgiese vrou van die geskenkwinkel vertel dat daar in 2015 dertig vlugte per
week na Lesvos toe gevlieg het. Verlede jaar, 2016, was daar net ’n skrale agt
vlugte per week. Hierdie jaar, darem tien vlugte per week. Eers was dit die
vlugtelinge en nou ook die aardbewing. Hulle sukkel om te oorleef met die min
toeriste. Dis sal jare neem om die ekonomie van die eiland weer te herstel. Dis
baie hartseer.
Die kasteel is toe weens die aardbewing. Hulle is
besig om dit te herstel. Dis die tweede grootste kasteel in Lesvos en dis baie
mooi. Ek kry altyd sulke prentjies van doerie tyd se mense in my kop en dan
word ek weggevoer na die verre verlede. Dis altyd die kaptein wat my terugbring
na die hede.
Reuse mure |
Kasteel |
Kasteel |
Uitsig oor die baai |
Ons stap onder die bloureën sambreel terug en die
dorpie is regtig mooi. My suster, Elize, sal sommer baie van dié plek hou.
Nou
is die vraag, kruis ons more? Die antwoord is ja. Ons kruip vroeg in, want dit
gaan ’n lang dag van 60 myl wees.