Friday, July 5, 2019

Lesvos Eiland. Plomari.

3 en 4 Julie 2019. Woensdag en Donderdag.

Mandraki tot Plomari

Alles is sopnat gedou. Dis 'n teken van geen wind. Die water is spieëlglad in die baai. Gus is elders.

Ons vertrek 6:00 na Plomari, 31.7 myl, op Lesvos eiland. Die son kom op en verander die landskap na dag. Sekuur bring Archie vir Maja deur die vlak kanaal tussen die eilandjies deur. En ons vat die oop see.

Vroeg op
Kaptein

Dis 'n reguit pad oor die water en ons word verras deur 'n klomp dolfyne wat met ontbyt besig is. Hulle seepgladde blink lywe verskyn so dan en wan bo die water. Pragtig! Ek sien oop 'n enkele vliegvis, die eerste van die seisoen.

Plomari kom nader en daar is baie plek vir ons. Archie tru en ek gooi anker. Gelukkig is daar twee manne op die kaai om te help, want hierdie kaai is hoog. En vas is ons.

Plomari

Henry en Sally, wat nou 'n huis in Plomari gekoop het, kom groet en ons gaan drink 'n drankie onder die groot plataaanboom, by Platanos.

Daarna gaan eet ons saam met hulle. Archie eet mossels, ek calamari en Sally en Henry, mossels en slaai. Hulle vertel van al hulle ervarings en probleme én suksesse met die restourasie van hul huis. Ons kuier heerlik.

Ek, Sally en Henry
Platanos Restaurant
Vars calamari

Vandag is dit tyd om Plomari te ontdek. Ons stap in die straatjies tussen die huise. Hier was mos in 2017 'n groot aardbewing. Sommige huise is gemerk met 'n rooi ∆, dit beteken dat die huis baie skade het, jy mag nie eers daar ingaan nie. Ander het geel ∆, wat beteken "its kind of olraait", en die groen ∆, beteken die huis is weer veilig. Die huise sonder ∆, het nie aardbewing skade gehad nie.
Ons stap langs die rivier en sien 'n mooi huis met 'n tuin wat my hart steel. Ek sal graag hier in Plomari wil bly, in my blou huis.

Plomari
Venster
Huis
My blou huis

Ons bly heerlik hier in die gelukkige dorpie. Ek voel sommer baie tuis.

Oinoussa Eiland. Mandraki.

2 Julie 2019. Dinsdag.

Chios Marina tot Mandraki, Oinoussa Eiland

Vandag is die dag. Gus gaan ons die geleentheid gee om weer op die water te kom na amper 'n week se skuil. 

Een na die ander van die seiljagte verlaat hul skuilplek. Eers die wat suid gaan en later die van ons wat noord gaan. Ons is op pad na Oinoussa Eiland, 9 myl. Dieselfde roete waar dit 'n week gelede onbegaanbaar was. Gus waai nog steeds 17 knope, maar vandag gaan ons wèl vorentoe, altyd vorentoe.
  
Hierdie is 'n barre klein eiland. 'n Meermin hou wag oor die baai. Sy sit groen en regop op haar rotstroon.
 
Meermin

Ons gaan vandag alongside by die kaai. Alles is reg en Archie vaar daarheen. Die kaai is baie laag en Archie staan gereed om af te klim en ek is agter die helm en pyl op die kaai af. Dan moet ek links swenk en na genoeg wees sodat Archie kan afklim. My hart klop in my keel. Die eerste is ons te vêr vir Archie om af te klim en ek probeer weer.

Archie gee bevele. Ek pyl op die kaai af en net voor ek dit tref, moet ek links draai om kaai te mis. My hart bons amper uit my ribbekas. Ek maak soos die kaptein sê en sukses! Ons is na genoeg en Archie klim af. Ek sit die boot in tru om haar te stop en nie in die Belgiese boot voor ons vas te ry nie. Sjoe, dit was "scary".

"Alongside"

Toe is ons heerlik langs die kaai in die dorpie, Mandraki. Die huise hier word opgeknap en lyk te spoggerig. Ons stap dorp toe en geniet die rustigheid van alles sonder 'n Gus wat sy asem probeer uitblaas. Die aand is dit so stil dat dit so baie dou, dit lyk soos 'n bui reën wat uitgesak het. Alles is nat. Te wonderlik!

Mandraki dorp
Blou kerk
Langs die kaai
Maak nette reg
Uitsig na Turkye

Voor ons is 'n Franse naaldekoker boot waarop 'n trotse ouerpaar met drie kindertjies is. Ek verstom my. Hulle kry later kuiergaste en toe is daar agt volwasse mense aan boord. Die rustigheid van hierdie dag oorweldig my, dis heerlik.

"Dragonfly"
Dragonfly se kinders
Kleure
Laatmiddag