24 September 2016. Saterdag.
Die ballonne vlieg! Vir die eerste
keer van ons in Göreme is, vlieg hulle. Archie se knie is baie beter en ons
gaan staan op die terras en verkyk ons aan die skouspel in die lug. Hulle sweef
grasieus deur die lug met die son wat net-net deurbreek. Dis pragtig. Dit
beteken die weer is vandag baie beter.
 |
Vlieg laag |
 |
Vlieg hoog |
 |
Tussen die pieke |
Na ontbyt is dit ons beurt. Ons
uittog is die Rooi Toer. Al twee Archie se bene kan loop en daar trek ons. Die
bussie laai ons op en ons is op pad. Eerste op die lys is Uçhisar se kasteel.
Daar is grotte en tonnels en die hele gemeenskap het op ’n stadium daar gebly.
 |
Uçhisar se kasteel |
Die volgende stopplek was die Opelug
Museum. Daar was ’n klooster vir nonne aan die eenkant en monnike aan die ander
kant. St Basil het ’n groot rol gespeel in die gemeenskap. Daar in ’n klomp
kerke, kapelle en kloosters in die rotse uitgekap. Geen foto’s mag van die
frescos of muurskilderye geneem word nie. Duiwe het ’n belangrike rol gespeel,
want hulle poo is as bemesting gebruik en daar was ook posduiwe wat boodskappe
na die ander dorpe geneem het.
 |
Opelug museum |
 |
Duiwe neste |
Liefde is in die lug en ons gaan
bewonder die “Love Valley” van die uitsigpunt af. Daar is geen twyfel
waarom die vallei die “Love Valley” genoem word nie. Kyk maar net na die vorm
van die astrante rotse in die vallei. Ek sal graag hier wil stap.
 |
Liefie en ek |
 |
Blomme vir my Ma - Jakob Regops |
Ons geniet ’n ete in Avanos en die
tafels kreun onder die kos. Dis ’n buffetete en almal eet natuurlik te veel.
Magies vol en die toergids neem ons na die Vanessa Keramiekfabriek.
 |
Pragtige keramiek |
Dis toe net waar die moeilikheid
begin. Die goed is mooi en word met die handgemaak. Daar is so wynkraf ding wat
vreeslik mooi is. Dit gloei in die donker. Ek en Suman, die Indiese vrou,
begeer dit. Ons begin die prys af te stry. Dis baie duur. Hy gee 50% afslag,
maar dis nog te veel. Na ’n lang redekawel besluit ons ons koop dit nie en die
bus vertrek. Ek voel eintlik baie verlig dat ek nie die duur ding gekoop het
nie.
Ons roete lei ons na Paşabağ se
feetjie skoorstene. Dis heerlik om hier rond te loop en ons klim boontoe. Die
feetjies staan trots en regop en almal neem foto’s en klim en loop rond.
Natuurlik is daar weer ’n kerk en ook grotte. Hierdie Cappadocia is regtig uit
’n ander wêreld! Iets besonders.
 |
Feetjie skoorstene |
 |
Spitse |
Ons gaan na Devrent Vallei. Hier
moet jy jou verbeelding gebruik en dan sien jy onder andere dolfyne, die Maagd
Maria, hande, ’n kameel en koningin. Dis eintlik baie mooi hier en almal geniet
die inligting wat Cinan, ons toergids gee. Ons kyk en almal sien iets
verregaande anders.
 |
Suman, ek en Archie met kameel in agtergrond |
 |
Hand |
Toe kom Cinan en deel ons mee dat
die man van die keramiekfabriek gebel het en hy sal die wynding vir ons gee vir
die prys wat ons bereid is om te betaal (wat in elk geval nog heeltemal te duur
is). O donder! Nou moet ons dit vat, want ons die prys voorgestel. Dit is meer
as 50% afslag. Cinan sê hy sal ons aan die einde van die toer soontoe neem vir
ons aankope. Ek lag net senuweeagtig.
Nou is dit wynproe en die wit Muskat
is heerlik. My pa sal baie daarvan hou. Dis uniek subtiel soet. Die rooiwyn is
nie so lekker nie. Dis baie duur en ons koop nie. Is in elk geval nou bankrot.
Die laaste stop is in Urgup, waar
die vader, moeder en haar kind staan. Hulle het seker soos oorlede Lot se vrou omgekyk
en toe in rotspilare verander. Vêr in die agtergrond is berg Erciyes, 3917 m
hoog en wit toegesneeu. Hier is ’n snerpende venynige windjie wat hier waai.
Ons gaan sommer gou terug bussie toe en so kom ons aan die einde van ons Rooi
Toer. Almal word by hul bestemmings afgelaai, behalwe ons.
 |
Ma, kind en pa |
 |
Sneeu berg |
Cinan ry saam met ons na die
keramiekfabriek toe en Suman en ek koop ons pragtige duur wynkraf ding. Dit
word vreeslik goed toegedraai. Ek sal nou in al die busse en treine die blerrie
ding soos goud moet oppas en op my skoot moet hou.En boonop as handbagasie in die vliegtuig vat!
Archie se knie het gehou. Wat ’n
heerlike opwindende dag!