21 September 2016. Woensdag.
Ons ry die nagbus na Göreme, Archie
met ’n hinke-pinke
knie. Hy weet nie eers wanneer of hoe het hy dit seergemaak
nie. Dis net skielik seer. So seer, dat hy nie daarop kan trap nie. Dan doen
die gebuigde knie posisie van die bus nou nie eintlik die knie goed nie.
Ons kom by Göreme aan en daai man se
knie is seer. Ek dra van sy goed en ons kom 7:00 sukkel-sukkel by die Cappadocia
Cave Rooms aan. Daar is niemand by ontvangs nie. En ja, ontvangs is heel bo-op die
terras.
So 8:00 kom die vrou wat ontbyt maak
daar aan en sy sê later ons kan maar ontbyt geniet. Al die tafels wat buite staan
is nat van die reën. Die uitsig vanaf terras is baie mooi in die warm gloed wat
die son oor die amper magiese landskap strooi.
 |
Vroegoggend Göreme |
Die personeel kom 9:00 en sê ons
kamer sal eers 12:00 reg wees. Sowat van ’n onbeskofte en onbehulpsame jong Turk
het ek lanklaas gesien. Die kombuis is vol vuil skottelgoed, daar lê komberse
en skoene rond. Nee wat, dit is net nie aanvaarbaar nie. Intussen beweeg die
kreupel Archie nêrens heen nie. Hy sit waar hy sit.
Teen 12:00 is ons toe in die kamer
en ons plak TransAct op Archie se knie en gee hom pille in. Hy kort bedrus. Hy
lê en lees en ek vat maar die pad dorp toe.
Ek soek vir my ’n rugsak (handsak
tipe) en kry ’n mooie.
Wel, wat ’n onbevredigende eerste
dag in Göreme. Hulle voorspel reën vir môre.