Friday, May 17, 2019

Şehir Adalari

16 Mei 2019. Donderdag.

Çökertme tot Şehir Adalari

Vandag is dit een van ons gunsteling ankerplekke, Şehir Adalari, 21 myl.

Ons groet die ander Maia en vertrek. Dis 'n lang pad en ons prrr maar net, want Gus waai nie. Sullivan vat die helm en die kaptein maak tee.

'n Vreemde drywende voorwerp dryf in die see rond. Uit blote nuuskierigheid vaar ons in dié ding se rigting. "Man over board" word geoefen en sukses! Het hom! 'n Rooi plastiese stoel! Dis in elk geval baie goed om dit uit die see te haal, want dit kan net skade aan die jagte veroorsaak.

Kaptein se nuwe rooi stoel

Ons vaar verby Ören, die kragstasie, vir ure aaneen. Tyd en afstand op ons kleine Maja staan soms stil. Myl vir myl sleep die tyd langsaam verby.

Ons kom by Şehir Adalari en Sullivan gooi anker en na die tweede probeerslag byt daai anker. Vas en veilig. Ek het gemengde gevoelens oor die gooiery. 'n Deel van my hou nie daarvan as iemand my anker gooi nie. Maar nou ja ...

Ons klim in Dinkie en gaan land toe. Cleopatra se beroemde strand is hier. Die storie word vertel dat sy só lief vir Anthony was, dat sy sand van vermoedelik Egipte af laat kom het om vir hom 'n lekker stand te maak. Hy was baie lief vir swem. Hulle het die sand ondersoek en bevind dat dit nie plaaslike sand is nie.
Maak Dinkie vas

Jy loop op sukke groen en rooi growwe matte tot in die see en dan mag jy swem. As jy bietjie sand huis toe wil vat, gaan jy in die tronk beland. So, hou jou hande tuis. Ek swem heerlik. Hou my ek's Cleopatra.

Cleopatra se strand
Ek swem
Moderne Cleopatra
Anthony?
Nog appelliefies vir my pa

Die makkers gaan verken die ou stad en geniet die stap tussen die ruïnes. Hulle kom terug en die twee ou fossiele wil nie eers op Cleopatra se strand swem nie. Nou vra ek jou met trane in my navy blou oë (ons het op skool so gesê) hoe kan jy dan nou na die geskiedkundige strand toe kom en nie swem nie?! Sê hulle sal eerder by Maja swem. Ek is sommer lus om my op te ruk, maar hou my in. Hulle verlies!

Teater
Uitsig oor baai vanaf teater
Ou hawe
Op die kaai

Ons roei terug en die twee makkers swem by Maja. Ag siestog! Maar darem is die water kristalhelder en verfrissend en hulle geniet die swem terdeë.

Die skemer daal en nog later oorval die aand ons soos 'n gehekelde kombersie. Aan die oostekant beloof die maan dat hy aanstons volrond sal wees. Şehir Adalari is pragtig.

Skemer
Sonsondergang

Çökertme

15 Mei 2019. Woensdag.

Bodrum tot Çökertme

Çökertme is 19.9 myl vanaf Bodrum en ons vertrek. Al weer nie genoeg wind vir seil nie. Ons besluit ons gaan na een van die drie restaurant kaai toe. Ons sal die een wat met die grootste vlag waai, ondersteun.

Ag, ons vaar te heerlik. Die makkers gesels en ek luister heerlik na hulle. Brei ook sommer 'n blokkie vir my kombers. Dis heerlik gemoedelik en rustig op Maja. Myl vir myl vaar ons vorentoe, altyd vorentoe. Tussen eilande, verby vakansie akkommodasie, dorpies en berge.

Rafelhoed

Toe kom ons naby Çökertme en ons sit fenders uit en wag dat die restaurant eienaar se wedywering begin met hulle vlae en fluitjies om ons te werf. Maar niemand hardloop uit nie! Niemand waai hul vlae nie! Niemand blaas hul fluitjies nie. Niemand wil ons hê nie! 

Ons voel afgehaal. Eindelik, toe ons nie eintlik weet waarheen om te gaan nie, kom 'n man na die kaai toe en beduie ons kan kom. Archie tru, ek staan gereed met die boothaak en Sullivan staan gereed om die snoettou by my oor te vat. Maar hulle gooi sommer die tou wortel en tak vir hom. Sjoe, maar was dit 'n skewe vasmeer! Die tou en boot en kaai is nie in lyn nie en ek sê vir die man ek hou nie van die "angle" nie. Ons kry toe die vasmeertou van langsaan en toe lê ons pragtig in lyn en ons is tevrede.

Çökertme Restaurant
Maja by die kaai
Langbeen sit

Dis nog nie in seisoen nie, daarom is al die restaurant kaaie waarvan die biek praat, nog nie in werking nie. Maar hier is ons. Later kom nog 'n boot en sowaar! Haar naam is Maia. Ons eie Maja se naamgenoot.

Maia en Maja

Ons gaan stap. Dit raak bewolk, maar die stap is nog steeds heerlik. Onder lê die baai met die berge wat daaroor troon. Lanings olyfbome. Beeste wat in die pad loop. 'n Vrou wat 'n ruk saamloop. Wonderlik landelik. Ek geniet die omgewing, die stap, die uitsig.

Blommespel
Makkers en tannie
Oren in die vêrte
Sullivan en olyfbome
Çökertme Baai

Çökertme Baai
Plaastante


Die aand gaan ons uiteet. En wat 'n aangename verrassing. Die eienaar is baie vriendelik en ons bestel sonder 'n spyskaart. Heerlike voorgereg. Visrol, gevul met garnale met 'n ryk borriesous. En die sous het sowaar 'n sampioen of twee in. Dit was behoorlik smaaklik. Ryk en lekker.

Hoofgereg is 'n groot vars levrek vir die tafel, aartappels en slaai. Met 'n bottel van hul goedkoopste witwyn. 'n Ware feesmaal! Sullivan sê dis van die lekkerste vis wat hy nog geëet het. Dis nou behoorlik 'n kompliment vir die kok!

Reg vir uiteet
Mooie makkers
In die restaurant
Gevulde levrek rol
Gebraaide levrek



Bodrum

14 Mei 2019. Dinsdag.

Knidos tot Bodrum

Bodrum drum drum. Dis 'n besige plek waarheen ons vandag gaan, 24 myl. Nie een van ons gunsteling plekke nie, maar ons moet weer swartwater uitpomp. So, ons gaan nie uit vrye wil soontoe nie. 

Sullivan vat ouder gewoonte die helm oor. Dan sit hy heerlik agter die stuur en hou sy lyf kaptein. Dit doen hy alles met 'n tevrede uitdrukking op sy gesig. En die regte kaptein, is dan net so effe verveeld en maak vir ons dan lekker tee. So vaar ons vorentoe, altyd vorentoe.

Oggendskoot - Rimpel dimpel

Ons sien ons eerste dolfyne van die seisoen. Skaam en skugter en wys net vir ons die puntjies van hul vinne. Maar dis altyd lekker om dolfyne te sien. Ou Sullivan sit hulle agterna, maar dan verdwyn hul net na die anderkant toe. Hulle is verseker nie vandag lus vir mensekinders nie.

Ons vaar verder en besige Bodrum kom al nader. Ons laat eers die swartwater uitpomp by Bodtum Milta Marina en toe gaan soek ons ankerplek in die groot baai met die kasteel wat nou herstel word.

Bodrum Baai
Bodrumkasteel vanaf ankerplek
Bodrum Baai

Sullivan gooi anker, maar die ding byt nie. Toe hy dit optrek, sit  groot ry toiletpyp aan hom vas. Na bietjie sukkel, val die swaar pyp af en hy gooi weer. En dié keer byt die anker en ons is vas. 

Later gaan ons drie land toe en maak vir Dinkie aan 'n swaar sambreelstaander vas dat sy nie kan ontsnap nie. Ons stap heerlik rond en geniet die atmosfeer. Daar is winkels met alles en nog wat. Hierdie is behoorlik 'n kopersparadys en Sullivan koop 'n geskenk vir sy vrou. O, hier is 'n klomp items wat ek graag vir myself sal wil koop. Rokke en bakke en lappe en sakke en vadoeke en en en. Maar nou ja ek is maar net die seilende sigeuner. Ek kan nie alles koop wat my oë sien nie!

Kasteel
Standbeelde
Sullivan en Archie

Ons eet roomys op 'n bankie en stap verder na die supermark waar ons voorrade aanvul. Hoender vir die vleis-lus en vars groente en vrugte vir skeurbuik. En stap swaar gelaai terug na Dinkie.

Appelliefies vir my pa

Die makkers gryp vir Dinkie. Een aan die een kant en een aan die ander kant. Maar daai bootjie is swaar. Loodswaar! Toe sien ek wat is aan't gebeur. Die twee makkers het nooit vir Dinkie losgemaak van die swaar sambreelstaander waaraan sy vasgemaak is nie en dié twee trek dit agterna. Ek bars uit van die lag en die twee mans van die restaurant wat dit gesien het, lag net so lekker! Die sonbaaiers kyk en lag ook. En ons lag saam. Dis nou behoorlik Laurel en Hardy! Hulle bevry vir Dinkie, ons klim en vaar terug na ons waterhuis asof ons nie nou net ons naam effe gat gemaak het nie. Heerlike kykgenot vir die toeskouers!

Ag, hiedie Bodrum is darem nie so sleg nie. Ons het die dag nogal geniet. Later die aand word Bodrum weer drum drum drum. Regte nagklub partytjie plek. Gelukkig is dit nog nie binne seisoen nie, so daar is net enkele plekke wat drum drum drum.

Nagskoot