Seilende sigeuner? Nee, eers Mei.
Reisende sigeuner? Nee, ook nie!
Stapper van formaat? Wel, ja!
Dit is nou ons tweede dag in Nice - Saterdag 13 April.
Ons geniet ons gate uit. Ons snuffel in die talle klein winkeltjies. Ons bewonder al die spyskaarte in die seekos restaurante (ons kan nie al die eksotiese seekos bekostig nie). Ons verdwaal in die ou stad,stap vir ure rond om alles te verken en te beleef. Ons asem die stad in en word deel daarvan.
 |
Een van die talle fonteine en standbeelde |
 |
Kerktoring in Nice se ou stad |
Die see is Mediterreens blou en die wind rol-rol die branders te pletter op die klein-klippie strand. Ons stap al langs die see.
 |
Daar is sowaar golwe |
 |
Op die Promenade des Anglaise |
 |
Nice se hawe |
Gisteraand, toe ons terug stap na ons woonplek, keer 'n ou Duits-Franse dame ons voor. Sy gesels land en sand. Sy vertel van die geskiedenis van die ou geboue en stap 'n ent saam met ons. Soos 'n wafferse toergids beveel sy aan dat ons die dorpie Vence moet besoek. Dis 'n baie ou dorp.
Vanoggend soek ons toe ewe gehoorsaam die bus wat na Vence gaan. Daar is twee busse, 400 en 94. Die 94 bus kom en ons klim, gretig om die besonderse ou dorp te sien. Na 'n uur se ry kom ons in Vence aan. Ons is ietwat verbaas, want dit lyk maar na 'n gewone dorp. Die busbestuurder sê ons moet eintlik na Vence St Paul gaan. Ons begin te stap. Na 7 km, ja 7 km, met 'n stuk tak wat ek as stapstok gebruik het,
kom ons (ek) natgesweet en moeg daar aan. Daarom dat ek sê stapper van formaat.
Ons moeite word deeglik beloon met 'n ou Middeleeuse dorpie wat voor ons verskyn! Ons is nog lank nie klaar gestap nie. Ons loop op en af en heen en weer deur die straatjies en stegies. Dit is die blyplek van baie eksentrieke kunstenaars en daar is 'n magdom kunsgallerye.
 |
Stegie in Vence St Paul |
Soos gewoonlik het ons vroeg oggend ook 'n draai by n mark gemaak, want dit trek ons soos 'n magneet. Ons kan net nie 'n mark weerstaan nie!
 |
Versuikerde vrugte - selfs turksvye. Ons koop! |